MunicipalNews

Gee munisipaliteit se goed terug, sê hof vir balju

“Ons het geen dokumente ontvang nie. Dit is baie frustrerend.”

Die balju het weer eens op die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit toegeslaan en het kantoormeubels, rekenaars, drukkers en selfs die skakelbord verwyder.

Ben Rakgatho, die balju, het op Vrydag 28 September en op Maandag 1 Oktober eiendom uit die munisipale geboue verwyder.

“Hy tree teenstrydig met ’n hofbevel op,” het Marlene van Staden, burgemeester, gesê. Die munisipaliteit het hul tot die hooggeregshof in Polokwane gewend en regter MG Phatudi het op Dinsdag 2 Oktober bepaal dat al die munisipaliteit se eiendom voor 16:00 op dieselfde dag terugbesorg moet wees.

“’n Artikel 152-hofbevel is op 26 Junie aan ons toegestaan en bepaal dat krediteure vir 90 hofdae nie teen ons mag optree nie. Dié 90 dae loop eers op Donderdag 1 November ten einde,” het Van Staden gesê.

Die hof het gelas dat Rakgatho in sy persoonlike hoedanigheid verantwoordelik is om die hofkostes te betaal.

Volgens Gideon Ferreira, ’n plaaslike prokureur wat in opdrag van die munisipaliteit opgetree het, kos so ’n hofaansoek gewoonlik tussen R100 000 en R150 000.

Die munisipaliteit se vullisverwyderingtrok is net verlede week terugbesorg nadat die balju in Mei op verskeie voertuie beslag gelê het. Die munisipaliteit het in dié geval ook in die hof geseëvier. Die hooggeregshof in Polokwane het in Julie bevind dat die munisipaliteit die voertuie waarop beslag gelê is nodig het om sy grondwetlike plig om dienste aan inwoners te verskaf te kan na kom. Rakgatho se aansoek om te appelleer is geweier.

Daar is op die voertuie beslag gelê omdat die munisipaliteit glo R1,8 miljoen aan die prokureursfirma Mphoke P.K. Magane Ingelyf verskuldig was. Die munisipaliteit het die rekening glo betwis.

Volgens Van Staden weet die munisipaliteit nie namens wie die balju op hul eiendom beslag gelê het nie.

“Ons het geen dokumente ontvang nie. Dit is baie frustrerend.”

Rakgatho wou nie verder kommentaar lewer nie.

Related Articles

Back to top button