MunicipalNews

Draai die krane toe, vra munisipaliteit

“Ons probeer seker maak dat alle dele van die dorp op ’n stadium deur die dag water het. Ons moedig inwoners aan om water baie spaarsaam te gebruik.”

Inwoners van Modimolle hou hul oë op die horison vir ’n wolkie so groot soos ’n man se hand in die hoop dat dit, soos in die Bybelverhaal, groot reën sal bring.

Groot dele van die dorp het die afgelope week noustrop getrek met krane wat óf droog is, of baie lae waterdruk het.

Volgens wyksraadslid Sarna Groenewald is die rede hiervoor dat Magalies Water die afgelope tyd slegs die helfte van die gewone hoeveelheid water voorsien het.

“Ons moet eintlik 5.3 megaliter ontvang, maar weens verskeie probleme en omdat ons die laaste verbruiker op ’n lyn van 40 km is, het ons die laaste ruk slegs ’n gemiddeld van drie tot vier megaliter ontvang. Vir die laaste twee dae, het ons slegs twee megaliter ontvang,” het sy op Dinsdag 25 September gesê. Volgens haar het die dorp se waterverbruik die langnaweek die hoogte ingeskiet weens die hitte en omdat die omliggende vakansieoorde vol toeriste was. Die munisipaliteit het glo ook gesukkel om voor te bly om opgaardamme vol te maak.

“Ons probeer seker maak dat alle dele van die dorp op ’n stadium deur die dag water het. Ons moedig inwoners aan om water baie spaarsaam te gebruik,” het sy gesê.

Dit is meestal hoogliggende woonbuurte wat deur die waterskaarste geraak word.

’n Inwoner van Swartwitpensstraat sê hulle is al jarelank gewoond aan die waterprobleme.

“Die inwoners van Njala-, Bontebok-, Swartwitpens- en Olienhoutstrate en dele van Bosveldsig-aftreeoord is al gewoond daaraan dat die water gereeld af is. Dit is jaar na jaar dieselfde kopseer,” het sy gesê. “Die munisipaliteit draai die krane toe sodat die water na ander dele van die dorp vloei, maar dan is ons vir groot dele van die dag sonder water.”

Marlene van Staden, burgemeester, het beaam dat die dorp ’n tekort aan water het.

“Ons gebruik glad nie meer water uit die Donkerpoortdam nie.” Sy het gesê hulle weet nie hoekom Magalies Water nie hul volle kwota water verskaf nie. Sy glo nie dat dit weens uitstaande skuld is nie. “Ons het verlede week R3 miljoen aan hulle oorbetaal en het ’n afbetalingsooreenkoms in plek vir die geld wat ons nog skuld,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button