MunicipalNews

Staatsdepartemente skuld glo miljoene

Die nasionale regering se skuld aan die munisipaliteit beloop R3,4 miljoen en die departement van gesondheid is glo ook etlike miljoene agterstallig.

Staatsdepartemente skuld die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit miljoene rande terwyl Eskom dreig om die munisipaliteit met beurtkrag te straf omdat sy kragrekening (al weer) agterstallig is.

Dié onthulling het aan die lig gekom nadat die munisipaliteit die hof in Modimolle se kragtoevoer op Vrydag 14 September wou opskort omdat R600 000 uitstaande is. Reëlings kon getref word om dit tydelik te verhoed.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, skuld staatsdepartemente die munisi-paliteit etlike miljoene. Die nasionale departement van openbare werke skuld glo R5,62 miljoen, die plaaslike departement R3,8 miljoen en die provinsiale departement R9 miljoen.

Die nasionale regering se skuld aan die munisipaliteit beloop R3,4 miljoen en die departement van gesondheid is glo ook etlike miljoene agterstallig.

Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer by die hof, het gesê indien die hof se kragtoevoer afgesny word, dit ’n groot invloed op hul werking sal hê.

“Alle verhoorsake, strafsake en siviele sake soos egskeidings, sal uitgestel moet word. Beskuldigdes wat in aanhouding is, sal verder in hegtenis bly en getuies en tolke sal op ander dae moet terugkom. Dit sal die afhandeling van sake vertraag en die agterstand van sake verhoog,” het hy voorts gesê.

Só ’n stap sal ook koste-implikasies inhou vir die prokureurs, polisie en die staat.

Die munisipaliteit is bykans R300 miljoen aan Eskom verskuldig en die kragverskaffer het reeds stappe begin doen om beurtkrag toe te pas in ’n poging om die munisipaliteit te dwing om sy rekening te vereffen. ’n Hofbevel is op Dinsdag 26 Junie aan die munisipaliteit toegestaan wat krediteure verhoed om vir 90 dae stappe te doen.

Dié besluit sluit Eskom in.

Die 90 dae grasietydperk nader egter nou sy einde.

“Die munisipaliteit het verlede week Eskom se maandrekening vereffen. Dit gaan tans goed met die munisipaliteit se onderhande-linge om ’n nuwe afbetalingsooreenkoms met hulle aan te gaan,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button