CarsLifestyleNews

Kry die beste waarde vir geld met die Honda BR-V

Ons Suid-Afrikaanse kopers wil graag die voordele van ’n nutsvoertuig, ruimte en grondvryhoogte geniet, maar wil dit in ’n pakket hê wat maklik in die stad bestuur en ons baie duur brandstof goed benut.

Honda se BR-V is reeds sedert 2016 in Suid-Afrika beskikbaar, maar met die gewildheid van kompakte nutsvoertuie wat steeds aan die toeneem is, kan die kompakte Honda nie langer geïgnoreer word nie.

Voor die BR-V was daar natuurlik die Mobilio, ’n praktiese (lees: vervelige) motor wat eenvoudig te veel van ’n stasiewa was om kopers tot in sy ruim kajuit te lok. Sien, ons Suid-Afrikaanse kopers wil graag die voordele van ’n nutsvoertuig, ruimte en grondvryhoogte geniet, maar wil dit in ’n pakket hê wat maklik in die stad bestuur en ons baie duur brandstof goed benut. Daarom verkoop die Ford Ecosport en Renault Dusters soos soetkoek en selfs Toyota was baie “haastig” om hul Rush in die mark te stoot.

Die Honda BR-V is egter die enigste ware sewesitplek-nutsvoertuig in hierdie geselskap en dit boonop teen ’n uiters mededingende prys. Dit is amper asof die bekendstelling van die Rush kopers laat dink het aan wat die moontlike alternatiewe kan wees en sodoende die kollig opnuut op hierdie Honda laat val het.

Die BR-V lyk nog steeds bietjie na ’n stasiewa, maar met 210 mm se grondvryhoogte, plastiekomhulsels oor die wielnisse en standaard dakreëlings is daar genoeg testosteroon om te verseker dat manlief oor naweke sal kan bestuur. Die vooraansig is tipies Honda en die tweekleurallooiwiele van die Comfort- en Elegance-modelle is lekker om na te kyk.

Die binneruim sal ook bekend lyk vir Honda-geesdriftiges hoewel van die plastiek en materiale dalk nie heeltemal op Honda se hoë standaard is nie.

As die prys egter ingereken word, is die gehalte bo-gemiddeld, alles is ten minste stewig aanmekaar gesit en behoort op die lange duur goeie diens te lewer. Daar is nie ’n navigasiestelsel nie, iets wat volgens my in die BR-V se guns tel, maar daar is Bluetooth- en USB-funksies.

Die kajuit voel smal en die sitposisie is laer as ander nutsvoertuie terwyl daar besonder baie beenspasie is.

Selfs die derde ry het redelike beenspasie en die tweede ry vou heeltemal op sodat passasiers tot agter kan klouter sonder om ’n heup uit te haak. Die middelste ry kan ook skuif om beenruimte of bagasiespasie te manipuleer. Soos in die Jazz, is daar ’n verskeidenheid opsies en verstellings om die sitplek en bagasieruim optimaal te kan gebruik.

Onder die enjinkap doen Honda se bekende 1.5-petrol diens. Dit is dieselfde bron wat in die Jazz, H-RV en Ballade sy betroubaarheid bewys het en al doen hy sy beste teen hoë revolusie is die enjin verfyn en ’n puik keuse vir gemaklike daaglikse rygenot. Daar is ’n keuse tussen ’n sesganghandrat en ’n CVT-ratkas. Die sesde rat help om die enjin se toere duskant die statosfeer te hou en om versigtig met die voggies om te gaan. Honda sê egter dat sleepwerk nie toegelaat word nie en dit kan nogal lol aangesien ’n Ventertjie handig sou wees vir die bagasie van sewe insittendes.

Al die modelle in die reeks is goedkoper as R300 000. Die Elegance is besonder goed toegerus terwyl die Comfort-modelle puik waarde bied. Die handelaar wat ek besoek het, het juis ’n uitstekende aanbieding op die Comfort-model gehad wat eenvoudig nie deur ’n mededingende model geklop kan word nie.

Teen hierdie pryse en met Honda se reputasie van betroubaarheid en die BR-V se veeldoelige karakter, voel ek dat hierdie tans die beste waarde vir geld kopie in die Suid-Afrikaanse mark is — alle sektore ingesluit.

* Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button