MunicipalNews

Inwoners moet krane toe hou

Stadig met die water, maan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sy inwoners — dit is nog nie tyd om tuin te maak of swembaddens vol te tap nie.

Die opgaardamme se vlakke is sorgwekkend laag — soos wat dit dikwels dié tyd van die jaar is. Dagtemperature styg tot by die 30°C, maar die somerreën daag tradisioneel eers in Oktober op om waternood te verlig.

Volgens die munisipaliteit was wateropgaartenk A by Bosveld-sig, wat deur Magalies Water van water voorsien word, op Dinsdag 21 Augustus 33% vol. Opgaartenk B, wat aan die mid-dedorp en ander woongebiede water verskaf, was 10% vol en die opgaardam by Phagameng slegs 18% vol. Mookgophong se opgaardam het op 16% gestaan en Mabatlane by Vaalwater s’n op 60%.

Die Donkerpoortdam, wat water aan ’n groot deel van Modimolle voorsien, het volgens die munisipaliteit slegs 10,4% water, maar die Welgevondendam (Frikkie Geyserdam) wat aan Mookgophong voorsien, staan darem op 80%.

Die munisipaliteit steun op verskeie boorgate om te help om inwoners se dors te les. Volgens die munisipaliteit se waterverslag, dra vyf van die nege boorgate in Modimolle tans by tot watervoorsiening, in Mookgophong 12 van die 19 boorgate, in Mabatlane sewe van die agt boorgate en in Mabaleng een van die twee boorgate.

Magalies Water voorsien ook ’n gedeelte van die dorpe se water, maar die plaaslike damme en boorgate speel ’n belangrike rol.

Die munisipaliteit vra inwoners om water te bespaar omdat die watervoorsiening onder hoë druk verkeer.

Related Articles

Back to top button