MunicipalNews

Balju hou munisipaliteit se voertuie

“Dit het ’n ernstige invloed op ons dienslewering, want die meeste van die voertuie waarop beslag gelê is, is van ons tegniese dienste departement.”

Verskeie voertuie wat aan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit behoort is steeds in besit van die balju nadat daarop beslag gelê is weens beweerde uitstaande skuld.

Een van die voertuie is die dorp se vullisverwyderingstrok.

Die Pos het vroeër berig oor die dilemma waarin die munisipaliteit verkeer nadat die hooggeregshof in Polokwane op Vrydag 25 Mei in die guns van die prokureursfirma Mphoke P.K. Magane Ingelyf beslis het teen die munisipaliteit. Die balju, Ben Rakgatho, het toestemming verkry om beslag te lê op beweegbare eiendom van meer as R1,8 mijoen. Die munisipaliteit be-twis egter die prokureursrekening ten sterk-ste, het Gideon Ferreira, van die prokureursfirma Geyser Ferreira, wat die munisipaliteit se saak behartig, gesê.

Die munisipaliteit het daarna ’n hofbevel op Dinsdag 17 Julie in dieselfde hof bekom wat beslis dat die balju die voertuie binne tien dae moet terugbesorg, anders kan hy tot 30 dae agter tralies beland. Hy moet ook die regskoste van die aansoek dra.

Die balju het volgens hofstukke op Maandag 30 Julie geappelleer teen die bevinding en die saak word op Vrydag 31 Augustus aangehoor. Die meriete op die ter syde stelling van die vonnis word op Dinsdag 30 Oktober aangehoor.

Marlene van Staden, burgemeester, het gesê dienslewering het ’n ernstige knou gekry weens die tekort aan voertuie. Hulle huur nie ekstra voertuie nie.

“Dit het ’n ernstige invloed op ons dienslewering, want die meeste van die voertuie waarop beslag gelê is, is van ons tegniese dienste departement,” het sy gesê.

“Ons vind die situasie baie frustrerend. Ons het al drie hofbevele teen die balju gewen omdat hy nie die korrekte proses gevolg het nie. Ek is seker dat ons die volgende een ook gaan wen. Ons is nooit die geleentheid gegee om die betaling te doen of om ondersoek in te stel voordat daar op die voertuie beslag gelê is nie. Deur dié aksies van hom, benadeel hy die gemeenskap en die munisipaliteit,” het sy gesê.

Volgens ingeligte bronne beloop die balju se rekening vir die skut van die voertuie R25 000 per dag en sal die rekening, tot ’n beslissing deur die hof gemaak is, aanhou ophoop.

Rakghato wou nie kommentaar lewer nie.

Related Articles

Back to top button