MunicipalNews

Raadsvergadering begin drie uur laat

Tydens die drie uur lange wag vir die vergadering om te begin, het amptenare, lede van die publiek, sowel as raadslede gegis dat die forensiese ondersoek die rede is waarom ANC-raadslede traag was om die vergadering te laat voortgaan.

’n Raadsvergadering van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het op Vrydag 27 Julie drie uur laat begin nadat ANC-raadslede aanvanklik nie die vergadering bygewoon het nie.

Hulle het buite die raadsaal vergader, wat beteken het dat die oorblywende raadslede nie ’n kworum gehad het om voort te gaan nie. Die DA en EFF het elk een afwesige raadslid gehad.

Jerry Ndou, LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA), het die vergadering bygewoon om ’n dringende assesseringsverslag aan die raad voor te lê. Dié verslag is saamgestel nadat ’n span van CoGHSTA en die provinsiale tesourie in Februarie ondersoek ingestel het na die munisipaliteit se geldelike probleme.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het die verslag gevolg nadat die raad nie goedkeuring vir die forensiese ondersoek gegee het toe die art. 139-ingryping deur die provinsie ter tafel gelê is nie.

“Dit was deel van die oorspronklike aanbevelings dat daar ’n ondersoek gedoen word. Die raad het egter die aanbeveling afgekeur en gesê hulle besluit daaroor is onderhewig aan die dringende assesseringsverslag.”

Die vergadering is na Donderdag 2 Augustus geskuif.

Die LUR het ingestem om sy besige program te herskeduleer omdat dié kwessie dringend aandag moet geniet.

Tydens die drie uur lange wag vir die vergadering om te begin, het amptenare, lede van die publiek, sowel as raadslede gegis dat die forensiese ondersoek die rede is waarom ANC-raadslede traag was om die vergadering te laat voortgaan.

Sommiges het ook die ontbinding van die raad as die enigste oplossing vir die huidige probleme voorgestel.

Indien die raad sou ontbind, sal raadslede hul poste kwyt wees en die provinsie sal die munisipaliteit vir ’n tyd bestuur.

Rufus Mahoro, hoofsweep van die ANC, het ten sterkste ontken dat die forensiese verslag die rede is waarom hulle die vergadering vertraag het.

“Ons het die agenda vir die vergadering eers die aand voor die tyd ontvang. Ons het ons vergadering vir 08:00 belê sodat ons ’n koukusposisie voor die 09:00-vergadering kon bepaal, maar kon nie betyds deur die agenda werk nie. Ons het gevra vir nog 30 minute uitstel,” het hy gesê.

Die koukusvergadering het eers om 09:45 klaar gemaak. Volgens Mahoro bepaal die ordereëls dat ’n vergadering gekanselleer moet word indien dit met meer as ’n halfuur vertraag is.

“Ons het die LUR versoek vir die dringende assesseringsverslag sodat ons weet wat die bevindinge is van die ondersoek wat in Februarie gedoen is. Indien daar ernstige probleme is, kan ons die kwessie na die munisipale komitee oor openbare rekeninge (MPAC) verwys, wat dan ’n forensiese ondersoek kan aanvra.”

Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid, het gesê hy is bekommerd oor die tendens dat vergaderings laat begin. “Dit gebeur ook dat portefeuljevergaderings nie op die bepaalde tyd gehou word nie. Die wet is duidelik daaroor dat as ’n raadslid drie vergaderings misloop, hy of sy hul posisie kwyt is. Dit gebeur nou dat raadslede laat inkom, net om die register te teken.”

Related Articles

Back to top button