MunicipalNews

Só trek kiesers in Wyk 9 hul kruisies

Syfers toon dat meer as ’n driekwart van die geregistreerde kiesers in Wyk 9 egter besluit het om nié tydens die tussenverkiesing te gaan stem nie.

Boetie Maname van die ANC is die Bela-Bela-munisipaliteit se nuwe raadslid nadat hy die tussenverkiesing in Wyk 9 op Dinsdag 17 Julie gewen het.

Dié wyk het voorheen aan die DA se Kobus van der Merwe behoort. Van der Merwe het vroeër vanjaar afgetree en uit Limpopo verhuis.

Syfers toon dat meer as ’n driekwart van die geregistreerde kiesers in Wyk 9 egter besluit het om nié tydens die tussenverkiesing te gaan stem nie.
Maname word op Dinsdag 31 Julie as wyksraadslid in die munisipale raad verwelkom.

Hy het die verkiesing met 48% stemme gewen teenoor die DA se Eddie Aschendorf met 45% van die stemme. Die EFF se Andries Mwambo het 5% gekry en Cope se Fransinah Mapaila slegs 1%.

Die tussenverkiesing het die dag voor Mandeladag, wat op Woensdag 18 Julie regoor die land gevier is, plaasgevind.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in Bela-Bela het die amptelike uitslae op Donderdag 19 Julie aan Die Pos bekendgemaak.

Volgens die OVK was 4 248 kiesers in Wyk 9 vir die tussenverkiesing geregistreer, maar slegs 1 827 mense het gaan stem.

Die meeste van die kiesers het by die stempunte in Spa Park (689 kiesers), Peet se Padstal (244), Renosterkloof Primary School (258) en in Blaauwboschkuil (474) gestem. Slegs 52 stemme is by die Platrivier-kafeestempunt, 45 by die stempunt by Motswedi Primary School en 65 by die stempunt by Saamwerkwinkel ingedien, sê die OVK.

Maname het altesame 866 stemme gekry, Aschendorf 817, Mwambo 96 en Mapaila 19 stemme.

Maname se grootste hoeveelheid stemme kom uit Spa Park en Blaauwboschkuil terwyl Aschendorf die meeste stemme by die Spa Park- en Peet se Padstal-stempunt verower het.

Volgens die OVK is heelwat bedorwe stemme ingedien — 13 uit Spa Park, een by Peet se Padstal, drie by Renosterkloof en 12 by Blaauwboschkuil.

Dit bring die hoeveelheid geldige stemme wat uit die 1827 kiesers ingedien is af na 1798, sê die OVK.

Maname het verlede week aan Die Pos gesê hy sien daarna uit om as nuwe wyksraadslid die lewens van die Wyk 9-inwoners te verbeter.

Related Articles

Back to top button