MunicipalNews

Só het ons Nylstroom destyds bestuur, vertel oud-burgemeester

Van die grootste infrastruktuurprojekte in die munisipaliteit het tot stand gekom tydens oom Schalk se tyd as burgemeester.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, en DA-raadslid Johann Abrie, wat voorheen die speaker van die raad was, het vandeesweek aangeklop by een van Modimolle se groot geeste van die sewentiger- en tagtigerjare.

Abrie het op sy Facebook-blad ’n kleurryke weergawe van hul besoek aan Schalk Hoepfner, wat voorheen onderburgemeester en later burgemeester van die dorp Nylstroom was, gegee.

Hoepfner het meer as twee en half dekades as raadslid van die dorp gedien.

Hy en sy vrou, Lucy, het in Modimolle afgetree.

“Op ’n punt in sy vroeëre lewe was hy die menslike hulpbronnebestuurder van die tweede grootste werkverskaffer in die voormalige Transvaal-provinsie, die Noord-Transvaalse Koöperasie. Oom Schalk is later vir die Nasionale Party gewerf deur nog ’n legende van Modimolle, oom Eben Cuyler, ’n man wat ’n hegte verhouding met die ou Randse Afrikaanse Universiteit, wat vandag die Universiteit van Johannesburg is, gehad het,” het Abrie geskryf.

Die vyfsterlodge en hotel Leeuwenhof in die Loubad-omgewing was eers die privaatwoning van Eben en Seba Cuyler.

“Van die grootste infrastruktuurprojekte in die munisipaliteit het tot stand gekom tydens oom Schalk se tyd as burgemeester. Een van die bekendste aftreedorpe in Limpopo, Kokanje, is toe gebou. Dit was ’n plek vir regeringsamptenare om af te tree,” het hy geskryf.

“Kort ná die ongelooflike Kokanje-projek het die destydse nasionale kommissaris van polisie, genl. Hennie de Witt oom Schalk genader om ’n vakansieoord in Modimolle te bou vir lede van die polisie. Dit is waar vandag se Weesgerus-vakansieoord sy oorsprong gehad het.”

Die pyplyn vanaf Magalies Water waarop dorpe in die munisipaliteit deesdae swaar steun vir voldoende water, is ook gedurende Hoepfner se tyd gebou.

Volgens Abrie het Hoepfner nie ontken dat dit deesdae ’n groter uitdaging is om sulke projekte aan te pak nie.

“Toe die apartheidsregering tot ’n val gekom het, het die voormalige administrateur van Transvaal, Olaus van Zyl, oom Schalk as administrateur van Phagameng, ons township, aangestel,” het Abrie geskryf.

Van Zyl is die eggenoot van die bekende sangeres Carike Keuzenkamp.

“Ná 1994 het die ANC oom Schalk vir sy hulp en kennis gevra. Dit was eers toe hy die ANC aangeraai het om nie onbekwame bestuurders aan te stel nie en hulle voortgegaan het daarmee, dat hy sy rug op plaaslike regering gedraai het.”

Volgens Abrie het hy en Van Staden Hoepfner gevra om te dink oor hoe groot infrastruktuurprojekte wat werksgeleenthede kan skep, in Modimolle aangepak kan word.

Volgens Van Staden was dit ’n heerlike besoek wat hulle ’n kykie in die verlede gegee het. “Hy het vertel dat raadslede voorheen voltydse werk gehad het en slegs een keer ’n week ’n vergadering by die munisipaliteit bygewoon het. Die burgemeester het ’n meer seremoniële rol gehad en was nie so betrokke by die administrasie en besluite nie. Dit klink asof die bestuur van dorpe toe minder gekompliseerd was.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button