MunicipalNews

Munisipaliteit vra inwoners om geduldig te wees

Die hoop grond kon al heelwat ongelukke veroorsaak het omdat mense gereeld moet uitswaai daarvoor.

Die waterprobleme wat weens die ou infrastruktuur in Bela-Bela ontstaan het, kan eersdaags opgelos word wanneer die kapitale projek om die pype in die dorp te vervang, voltooi word.

Motorryers sal totdat hierdie projek voltooi is deur gate en slote in die paaie moet ry.

Jopie Jacobs, bekende byekenner in die dorp, het telkemale by die munisipaliteit oor die gat in Gilfillanstraat voor sy eiendom gekla. Die gat het ’n maand gelede weens ’n ondergrondse waterlek ontstaan en moes oopgegrawe word.

Tinus Ras, wyksraadslid, het self by die waterlek moue opgerol en hulp verleen nadat die munisipaliteit se laaigraaf glo sonder brandstof was, sodat die lek herstel kon word.

’n Paar weke later was die hoop grond steeds in die pad en die sypaadjie in ’n baie slegte toestand.

Jacobs het gesê die hoop grond kon al heelwat ongelukke veroorsaak het omdat mense gereeld moet uitswaai daarvoor.

’n Plaaslike verkoelingsonderneming het aangebied om iemand te stuur om die gat op te vul.

Ruben Molefe en Petros Hlongwane van die verkoelingsonderneming het op Donderdag 12 Julie die eiendom besoek, die grond uit die pad geskuif en die gat toegegooi. Hulle het ook die sypaadjie weer netjies gemaak.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie gesê wanneer inwoners voel dat die opgraderingswerk ’n probleem vir hulle skep, kan hulle dit by die munisipaliteit aanmeld.

“Ons maak ’n punt daarvan dat inwoners steeds by hul huise kan inry wanneer gate voor eiendomme gegrawe word. Inwoners moet asseblief onthou as die gate nog oop is, beteken dit dat die kontrakteur nie klaar is nie al vat dit tyd voor die gat weer toegegooi word,” het Mosito gesê. “Ons werk so vinnig as wat ons kan om die inwoners se lewens deur hierdie projek te verbeter. Ons hou nie die gate moedswillig oop nie; die kontrakteurs is steeds besig met die werk.”

Ras het by navraag gesê indien mense hul ontevredenheid oor die gate by die munisipaliteit aangemeld het en geen reaksie ontvang nie, kan hulle hom by tel. 082 650 1185 bel of die probleem met ’n lid van die wykskomitee bespreek.

Dit is die kontrakteur se verantwoordelikheid om die gate weer toe te maak, het Ras gesê.

Related Articles

Back to top button