MunicipalNews

Forum trek neus op oor vullishope

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope week slegte nuus bekend gemaak in ’n stortingsterreinoudit van 11 munisipaliteite in Limpopo oor die toestand by stortingsterreine.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo, het hulle met elke besoek 33 vrae oor die terrein gevra. Die terrein moet bo 80% behaal om as ’n goed bestuurde terrein te kwalifiseer.

Die nasionale omgewingsbestuurswet se vullisbeleid bepaal dat daar onder meer ordentlike toegangsbeheer, brandregulasies, regulasies vir onwettige storting, omheining en rehabilitasieplanne by elke terrein moet wees.

Net die terreine in Tzaneen, Groblersdal en Marble Hall het volgens AfriForum bo 80% behaal. Lephalale het 32%, Hoedspruit 18%, Mookgophong 32%, Modimolle 12%, Phalaborwa 64%, Thabazimbi 2% en Bela-Bela 37% ontvang. ’n Punt is nog nie aan Louis Trichardt (Makhado) toegeken nie.

Grobbelaar het by navraag gesê die oudit is gedoen om die bestaande probleme onder munisipaliteite se aandag te bring sodat die terreine weer op peil gebring kan word.

“Swak bestuurde terreine het ’n besliste uitwerking op die omgewing. Die Leeupoort-terrein is byvoorbeeld nie omhein nie, daar is mediese afval wat rondlê, brande ontstaan gereeld en mense woon op die terrein wat gesondheidsrisiko’s vir hulle inhou,” het Grobbelaar gesê.

Die Bela-Bela-munisipaliteit se stortingsterrein het in Desember beroerd gelyk terwyl hulle op soek was na ’n nuwe kontrakteur om die terrein te bestuur. ’n Nuwe kontrakteur is intussen aangestel.

Die Pos het die stortingsterrein weer op Maandag 16 Julie besoek.

Die terrein lyk aansienlik beter as ’n paar maande gelede, maar daar is steeds ooglopende probleme soos die gebuigde heinings, oop vure wat ontstaan en mense wat die terrein betree.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit is nie presies seker hoe AfriForum die kritiek oor die terrein bepaal het nie.

“Ons ervaar nie tans groot uitdagings by die terrein nie, maar ons is besig met planne om die heining te herstel,” het hy gesê. “Die munisipaliteit beplan ook om in die huidige boekjaar ’n eksterne oudit van die terrein te doen wat vir ons ’n beter aanduiding sal gee of daar werklik probleme is,” het Mosito gesê.

Volgens Grobbelaar is AfriForum op goeie voet met die departement van omgewingsake en sal hulle iets aan dié probleme doen.

“’n Mens kan nie net heeltyd munisipaliteite op hul foute wys nie. Hulle moet ook met oplossings genader word.”

’n Franse herwinningsonderneming is volgens Grobbelaar tans besig om munisipaliteite in die land te besoek om ’n herwinningsprogram op die been te bring waar vullis in energie omskep word.

Grobbelaar het gesê die meeste van die munisipaliteite skop daarteen aangesien hulle bang is hulle verloor belasting deur hul stortingsterreine by só ’n projek te betrek.

Grobbelaar het voorts gesê AfriForum sal aanhou om die terreine dop te hou sodat elkeen aan die nasionale standaard kan vol-doen.

Related Articles

Back to top button