MunicipalNews

ANC klop DA dié keer in tussenverkiesing

die ANC het die verkiesing met 48% van die stemme gewen.

Die DA het Wyk 9 in Bela-Bela die afgelope week by die stembus aan die ANC afgestaan.

’n Tussenverkiesing is op Dinsdag 17 Julie gehou nadat die DA se Kobus van der Merwe, strydrosraadslid van Bela-Bela, vroeër vanjaar afgetree en na die Wes-Kaap verhuis het. Hy was etlike jare lank raadslid van dié wyk.

Vier kandidate, Francinah Mapaila (Cope), Andrias Mwambo (EFF), Eddie Aschendorf (DA) en Boetie Maname (ANC) het as kandidate vir die verkiesing gestaan.

Die ANC se Maname het die DA se Aschendorf met 49 stemme om ’n plek in die raadsaal geklop.

Volgens die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se onlangse syfers was altesame 4 263 inwoners vir dié verkiesing geregistreer.

Die OVK het teen druktyd bekendgemaak dat die ANC die verkiesing met 48% van die stemme gewen het. Die DA het 45%, die EFF 5% en Cope 1% van die stemme gekry.

Maname het Woensdag in ’n onderhoud met Die Pos gesê dit was ’n taai stryd vir die ANC aangesien die wyk voorheen aan die DA behoort het. Maname is die afgelope 15 jaar ’n ANC-lid.

Hy was aanvanklik by die ANC Jeugliga betrokke, waarna hy adjunkvoorsitter van die plaaslike ANC-tak en toe later sekretaris van die tak geword het.

Voor die verkiesing het hy vir die departement van paaie en stormwaterstelsels by die munisipaliteit gewerk, het hy gesê.

“Ek wil veral baie dankie sê aan elke vrywilliger wat by die veldtog betrokke was, asook die kiesers wat vir my gestem het. Hulle stemme was ter ere van oudpres. Nelson Mandela se nalatenskap. Aan die opposisie wil ek ook sê die ANC hoop om in die toekoms saam te werk om die lewens van ons inwoners te verbeter.”

Lindy Wilson, die DA se kiesafdelingshoof in die Waterberg, het by navraag gesê hoewel die DA nou sy wonde moet lek, is hulle van plan om sterker vir die volgende verkiesing terug te keer.

“Die mense het gepraat en het besluit dat hulle tevrede is met die ANC as regerende party,” het Wilson gesê. Volgens Wilson was een van die faktore wat die ANC ’n voorsprong gegee het, hul “magsvertoon”.

“Daar was talle ANC-voertuie met luidspekers op wat rondgery en inwoners aangemoedig het om vir hulle te stem. Kiesers is ook met kospakkies in kruiwaens by die stempunte weg. Dit was inderdaad ’n vertoning van mag,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button