MunicipalNews

Sake hervat by lisensiekantoor

Daar is onder andere voorsiening gemaak vir geldlaaie, liasseerkabinette, ’n kluis en kopieermasjiene vir die kassiere.

Inwoners van Mookgophong sal binnekort weer hul rybewyse en voertuiglisensies by die lisensiekantoor kan hernu.

Die plaaslike DA en inwoners van Mookgophong het besluit om die lisensiekantoor in die dorp, wat op Dinsdag 24 April deur ’n brand in puin gelê is, weer toe te rus.

Burgemeester Marlene van Staden het aan Die Pos gesê die DA en lede van die gemeenskap het besluit om te help weens die swak finansiële posisie waarin die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit hom bevind. Raadslid Hercules Louw en Arrie Opperman, hoof van die verkeersafdeling in die dorp, het die installering van twee veiligheidsdeure en diefwering by die twee kantore behartig. Muurproppe is ook aangebring vir die gebruik van die rekenaars.

Verder is daar voorsiening gemaak vir geldlaaie, liasseerkabinette, ’n kluis en kopieermasjiene vir die kassiere. Van Staden het ook gesê vyf nuwe kringtelevisiekameras is aangebring.

Die munisipaliteit het ook die departement van vervoer in Limpopo versoek om weer die E-Natis-sisteem te installeer. Dit sal inwoners in staat stel om lisensies en rybewyse te hernu. Leerling- of rybewyse, asook padwaardigheidstoetse sal nog nie hier gedoen kan word nie.

Die kantoor het op Woensdag 11 Julie weer hul deure geopen en sal gedurende weeksdae van 08:30 tot 15:00 oop wees. Die kantoor sal aanvanklik nie kaarttransaksies kan hanteer nie en inwoners word gvra om kontant of elektroniese betalings te maak.

Volgens Louw is die departement van vervoer se ondersoek na die beweerde korrup-sie by die kantoor steeds nie afgehandel nie. Die forensiese afdeling, asook ’n finansiële ondersoekspan, het reeds terug gerapporteer en hulle is besig om ’n indringende ondersoek saam met die munisipaliteit te doen. Niemand is egter vir enige korrupsie aangekeer nie.

Related Articles

Back to top button