MunicipalNews

Dorpe slaak sug van verligting ná krag-hofbevel

Die hof hoor op Dinsdag 10 Julie die sakekamer se aansoek aan waarin hulle die provinsiale en nasionale tesourie wil dwing om in te gryp om die benarde geldelike posisie van die munisipaliteit te beredder.

Dit was so hittete of verskeie dorpe in die Waterberg was vandeesweek in die donker.

Inwoners slaak nou ’n sug van verligting dat hulle drie maande grasie het voordat hulle hul weer oor die kragtoevoer hoef te bekommer.

Die nuus dat Eskom nie sy dreigement gaan deurvoer om die kragtoevoer na dorpe in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit vanaf Vrydag 29 Junie drasties te sny nie, is slegs die dag vóór die beoogde afsnydatum deur die munisipaliteit ontvang.

’n Hofbevel is op Dinsdag 26 Junie aan die munisipaliteit toegestaan wat krediteure verhoed om vir 90 dae stappe te doen. Dit sluit Eskom se sny van die kragtoevoer in. Eskom het egter eers die dag voordat hulle hul dreigement sou deurvoer, bevestig dat hulle nie daarmee sal voortgaan nie.

Die Waterberg-sakekamer het ook op Donderdag 28 Junie in die hof verskyn om ’n stokkie voor Eskom se planne te steek. “Daar was hewige argumente in die hof tussen die sakekamer en Eskom se advokate. Die uiteinde was dat die hof aanvaar het dat Eskom se ter elfder ure besluit (om nie die krag te sny nie) wat eers vanoggend gepubliseer is, die dringendheid van die sakekamer se aansoek weggeneem het. Die aansoek is van die rol verwyder en die sakekamer kan steeds met die hersieningsaansoek voortgaan,” het Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer in ’n verklaring gesê.

Die hof hoor op Dinsdag 10 Julie die sakekamer se aansoek aan waarin hulle deur middel van artikel 139 (5) die provinsiale en nasionale tesourie wil dwing om in te gryp om die benarde geldelike posisie van die munisipaliteit te beredder.

Die sakekamer sou vandeesweek vergader om hul pad vorentoe te bepaal.

Marlene van Staden, burgemeester, het gesê sy is verlig oor die hofbeslissing wat Eskom striem.

“Ons eerste oorweging bly steeds om die geldelike posisie van die munisipaliteit te stabiliseer sodat ons kan verseker dat ons ons krediteure betyds betaal, dienslewering verbeter en belê in noodsaaklike infrastruktuur.”

Volgens Botes voer die sake-kamer samesprekings met die munisipaliteit en Eskom om ’n omkeerstrategie te bewerkstellig. “Ons kyk daarna om ’n gemeen-skapsforum op die been te bring waartoe inwoners maandeliks kan bydra.

“Dié geld kan gebruik word in tye van nood om regskoste of die herstel van slaggate of straatligte te betaal,” het hy gesê.

Botes het gesê hulle kyk ook daarna om die hulp van ’n privaat maatskappy in te roep. Daar is maatskappye wat die voorsiening van elektrisiteit, invordering en onderhoud by die munisipaliteite oorneem. Hulle betaal Eskom, asook die munisipaliteit en spits hul daarop toe om die proses van voorsiening en invordering so doeltreffend moontlik te bestuur.

Related Articles

Back to top button