MunicipalNews

Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se begroting skiet ver tekort

Die inkomste wat gegenereer word deur belasting en dienste wat gelewer word, is verantwoordelik vir 68% van die munisipaliteit se inkomste.

’n Onbefondsde begroting vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is op Dinsdag 19 Junie deur die munisipale raad goedgekeur.

Dié begroting, met ’n tekort van sowat R158 miljoen, is met die hulp van amptenare van die provinsiale en nasionale tesourie opgestel.

Sprekers het tydens die vergadering nie doekies omgedraai oor die geldelike verknorsing waarin die munisipaliteit verkeer nie. ’n Verteenwoordiger van die ouditeur-generaal het aan die raad gesê die munisipaliteit het ’n oudit-afwysing (disclaimer) van die ouditeur-generaal ontvang vir die 2016/2017-boekjaar. Hy het kwetsend gesê hy was 24 jaar gelede betrokke by die oudit van Modimolle en Mookgophong en dat die munisipaliteite in kontras toe stabiel was, raadslede saamgewerk het en alle poste gevul was. Die ouditspan het in April vanjaar onttrek omdat hulle nie samewerking van die amptenare ontvang het nie.

Nie een van die EFF se raadslede het die vergadering bygewoon nie.

Die raad het die begroting, die geïntegreerde ontwikkelingsplan en ’n medium-termyn inkomste- en uitgawes-begroting vir 2018/2019 goedgekeur. ’n Finansiële herstelprogram, wat daarop gemik is om die begrotingstekorte uit die weg te ruim, is ook aanvaar.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, is een van die komende jaar se bekommernisse dat die regering etlike miljoene van die billike toedeling kan terughou weens onderbesteding.

Sy het in haar begrotingstoespraak gesê die totale bedryfsinkomste vir 2018/2019 het met 4% verhoog tot ongeveer R477 miljoen in vergeleke met die vorige jaar. Die totale bedryfsuitgawes vir die 2018/2019-boekjaar is geskat op R635 miljoen, wat beteken dat die begroting is R158 miljoen tekort. Dit is hier waar die geldelike herstelprogram ’n plan moet bewerkstellig.

Die inkomste wat gegenereer word deur belasting en dienste wat gelewer word, is verantwoordelik vir 68% van die munisipaliteit se inkomste.

Eiendomsbelasting verhoog van R65,4 miljoen na R103,2 miljoen in die 2018/2019-boekjaar. Die tariewe vir Modimolle en Mookgophong is saamgevoeg in een stel tariewe vir verskillende kategorieë. Die opgedateerde munisipale waardasierol sal ook die munisipaliteit se inkomste verhoog.

Van Staden het gesê die lewering van water, elektrisiteit en sanitasie is veronderstel om ’n inkomstebron vir die munisipaliteit te wees, maar dié dienste word tans teen ’n verlies gelewer.

Hulpbehoewendes sal maandeliks 50 kWh elektrisiteit en 6 kl water gratis ontvang, tensy hulle die hoeveelhede oorskry. Hulle betaal nie vir riool, vullisverwydering of enige eiendomsbelasting nie.

Die munisipaliteit se personeeluitgawes is tans 34% van sy totale bedryfsuitgawes, oftewel R203,8 miljoen. Die aanbeveling is dat dié persentasie tussen 24% en 40% moet wees.

Grootmaataankope wat elektrisiteit en water insluit, beloop R196 miljoen vir die 2018/2019-boekjaar.

Kapitale uitgawes van R95,9 miljoen word begroot op infrastruktuur vir die huidige jaar en R26 miljoen en R133 miljoen in die daaropvolgende jare. Van die doelwitte is die bou van ’n nuwe substasie vir Modimolle, die herstel en onderhoud van bates sodat beter diens gelewer kan word, die vestiging van ’n nuwe stortingsterrein en die sluiting van die bestaande een in Modimolle, die voltooiing van die Limpopo-laagwaterbrug wat al jare lank sloer en die plavei van verskeie strate, die voltooiing van rioolretikulasie en erfkoppeling in Phomolong, die voltooiing van die Leseding-sportgeriewe en die elektrifisering van 500 huise in uitbreiding 6.

“Daar is geen twyfel daaraan dat ons in ’n moeilike geldelike situasie is nie. Ek glo egter as elkeen hul deel doen, kan ons dié munisipaliteit weer herstel,” het Van Staden gesê.

“Ek vra elke werknemer om harder en slimmer te werk, my mede-raadslede om ’n deeglike oorsigrol te speel, die gemeenskap om hul rekeninge betyds te betaal en ons krediteure om geduldig te wees.”

Related Articles

Back to top button