MunicipalNews

Belastingforum dreig met die hof teen munisipaliteit

Daar word beweer dat die munisipaliteit gereeld voorskrifte van die wet, asook die munisipale stelselbeleid verontagsaam.

Die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) waarsku die Bela-Bela-munisipaliteit dat hulle regstappe sal doen indien die munisipaliteit nie sy wetlike verpligtinge nakom nie.

In ’n prokureursbrief, waarvan Die Pos ’n afskrif het, word beweer die munisipaliteit verontagsaam gereeld die voorskrifte van die wet, asook die munisipale stelselbeleid.

Die BBTF het veral klem gelê op munisipale vergaderings waar kennisgewings oor wanneer die vergaderings gehou word, glo nie binne die voorgeskrewe tydperk (minstens sewe dae) uitgereik word nie. Hulle voer ook aan die gemeenskap mag nie bywoning geweier word by vergaderings waar verordeninge gewysig word, die dorp se begroting, die beoogde geïntegreerde ontwikkelingsplan of enige saak rakende wetgewing bespreek word nie.

Die BBTF het gemaan dat kennisgewings in al die amptelike tale uitgereik moet word en dat elke kennisgewing, volgens wet, ook in die provinsiale staatskoerant gepubliseer moet word.

Die brief lui verder dat behoorlike kennisgewings die gemeenskap die geleentheid sal gee om ingeligte besluite te kan neem en voor te berei vir munisipale vergaderings.

Die gemeenskap moet ook vooraf toegang hê tot die nodige dokumente wat ter tafel gelê word en tot die munisipale verordeninge.

Die brief is op Dinsdag 29 Mei by die munisipaliteit tydens ’n amptelike raadsvergadering ingedien — op dieselfde dag waarop die munisipale begroting vir die 2018/2019-boekjaar amptelik aanvaar is.

Indien die munisipaliteit met dié vergadering voortgaan “sonder behoorlike kennisgewing”, sal die BBTF die hooggeregshof in Polokwane nader om ’n bevel wat elke besluit wat tydens dié vergadering geneem is, ter syde te stel, het die prokureursbrief gelui.

Die vergadering het egter voortgegaan.

Sello Michael Makhubela, munisipale bestuurder, het tydens die vergadering gesê kennisgewings wat inwoners oor die verga-dering inlig, is vooraf in die media gepubliseer en op die munisipaliteit se Facebookblad geplaas.

Die BBTF verskil egter van dié siening.

“Ons het die versoek gerig om korrupsie in die raad te stuit. Dit sal in almal se belang wees as die gemeenskap teenwoordig kan wees in onder meer tenderprosesse en toegang kan kry tot komiteevergaderings,” het Johan Mills, voorsitter van die BBTF, by navraag aan Die Pos gesê.

Die BBTF beoog om die bandopnames van vergaderings by die munisipaliteit te verkry en indien die punte wat tydens die vergaderings aanvaar is, teenstrydig is met die voorvereistes van die wet, sal die BBTF verdere stappe doen, het Mills gesê.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het gesê hulle is bewus van die brief en het die navraag na die munisipaliteit se regsafdeling verwys wat teen druktyd nog nie kommentaar gelewer het nie.

Related Articles

Back to top button