MunicipalNews

Sakelui en inwoners is diep bekommerd oor Eskom-dreigement

“Dit sal rof gaan. Ons kan ’n kragopwekker gebruik, maar dit kos tussen R500 en R1 000 per dag. Die kragopwekker sal dit nie hou nie. Die onderbrekings sal beteken dat ondernemings hul produkte duurder moet maak om te oorleef,” het hy gesê.

Ondernemings en inwoners in Modimolle en Mookgophong hoop benoud op verligting voordat Eskom sy dreigement uitvoer om dorpe in die munisipaliteit se krag vanaf Vrydag 29 Junie met tye af te skakel.

Volgens Eskom sal die krag tydens die eerste week ses en ’n half uur per dag afgeskakel word en in die daaropvolgende week elke dag van 06:00 tot 20:00.

Lees ook: Alle hoop op howe om Eskom te keer

Dit sal dit bitter moeilik vir sakeondernemings maak wat afhanklik van kragtoevoer is om hul deure oop te hou.

Martin Swanepoel van Hunters Slaghuis in Modimolle het by navraag gesê die komende kragonderbrekings is “’n groot gemors”.

“Dit sal rof gaan. Ons kan ’n kragopwekker gebruik, maar dit kos tussen R500 en R1 000 per dag. Die kragopwekker sal dit nie hou nie. Die onderbrekings sal beteken dat ondernemings hul produkte duurder moet maak om te oorleef,” het hy gesê.

Danielle Saddler van Salon Amelia het gesê hulle sal kan voortgaan met sake omdat hulle ’n watertenk, drukpomp en kragopwekker aangeskaf het.

“Dit sal ons egter sowat R400 per dag aan brandstof kos,” het sy gesê.

Andries Visagie, bestuurder van die Waterberg Residentia-ouetehuis, is baie bekommerd.

“Ons het 64 mense met ’n gemiddelde ouderdom van 85 wat in die tehuis woon. Hulle het verskillende vlakke van versorging nodig.”

Twee mense is permanent aan suurstof gekoppel.

“Ons kan ons kragopwekker slegs in tye van nood aanskakel — dit skakel die noodligte aan. Daar is egter 71 kamers en hul ligte word nie aangeskakel deur die kragopwekker nie,” het hy gesê. “Van die ouer mense sukkel om warm te bly met slegs komberse en het ’n hittebron van elders nodig. Kragonderbrekings soos dié wat Eskom beplan sal lewens in gevaar stel.”

Visagie het gesê hul kragopwekker kos R5 000 per dag om aan te skakel en dit val buite hul begroting om dit daagliks te gebruik. Hulle gebruik gasstowe om kos voor te berei.

“Ons maak toe as daar nie krag is nie,” was die somber reaksie van Fernando Goncalves van Pavecon in Modimolle. “Ons kan nie stene met diesel maak en kompeterend bly nie. Sonpanele sal ons sowat R750 000 kos en werk nie van vroegoggend tot laatmiddag nie. Ons sal dus ’n 100 kVa-kragopwekker ook nodig hê. Ons het nie daardie kapasiteit nie,” het hy gesê. “Ons sal boonop moet bly betaal aan ons munisipale rekening al kan ons nie werk nie.”

Talle sakelui het die moontlikheid van werksverliese geopper, wat die situasie verder sal versleg. Van die sakelui het gesê hulle ondersoek die moontlikheid om hul ondernemings na ander dorpe sonder Eskom-skuld en gunstiger toestande te verskuif, wat nie goeie nuus vir Modimolle, Mookgophong en Vaalwater se ekonomie sal wees nie.

Related Articles

Back to top button