MunicipalNews

Die gort is gaar oor Sebola se naam op Mogalakwena (Potgietersrus) se kortlys

Die kortlys vir die pos van munisipale bestuurder van die Mogalakwena-munisipalititeit (voorheen Potgietersrus) het groot ontsteltenis by opposisiepartye veroorsaak.

Die voormalige munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, Ombali Phineas Sebola is een van die oorwegings vir die pos in Mokopane.

Die Pos het in die verlede herhaaldelik berig oor die beleërde Sebola tydens sy tydperk in Modimolle.

Sy kontrak het einde Maart verstryk. Hy was ook weer vir dié pos op die kortlys, maar Henri Lubbe, bestuurder van korporatiewe dienste wat ook aansoek gedoen het, het daarteen beswaar gemaak en ’n regsproses is tans aan die gang.

In ’n striemende mediaverklaring het Korny Dekker, DA-raadslid van Mogalakwena, die afgelope week gesê hulle vind die oorweging van Sebola as munisipale bestuurder onverstaanbaar.

“Die munisipaliteit het probleme met wanadministrasie en faksiegevegte wat reeds die lewens van vier ANC-lede geëis het en daar was die afgelope vyf jaar uitgerekte hofsake en onderbroke dienslewering. Die laaste twee jaar het hulle twee voorwaardelike menings van die ouditeur-generaal ontvang,” lui die verklaring.

Sebola was vroeër die munisipale bestuurder van Mookgophong en is ná die samesmelting van die twee munisipaliteite weer aangestel. “Onder sy bestuur het die munisipaliteit se finansiële ouditverslae agteruitgegaan.” Dekker het ook aangevoer dat munisipale skuld onder Sebola se bestuur in só ’n mate handuit geruk het dat Eskom die dorpe se kragtoevoer wil afsny.

Luidens die mediaverklaring het die volgende dinge glo ook onder Sebola se bestuur gebeur:

  • Die munisipale finansiële bestuurswet (MFMA) en die prosedures vir die bestuur van die munisipale voorsieningskanaal is geïgnoreer.
  • Voorwaardelike toelaes vir water en elektrisiteitsinfrastruktuur is gebruik om salarisse te betaal.
  • Eskomskuld het tot R250 miljoen gestyg.
  • Die dienskontrak van die bestuurder in die projekbestuurseenheid is deurlopend hernu sonder dat die pos geadverteer is en prestasiebonusse is aan dié persoon betaal deur fondse van vakante poste te gebruik;
  • Die invorderingspersentasie van die munisipaliteit het drasties gedaal.
  • Die munisipaliteit het miljoene rande aan krediteure betaal wat nie op die geregistreerde databasis van die munisipaliteit was nie.
  • Nagenoeg R20 miljoen is uitbetaal sonder enige verwysing op die bankstate om aan te dui wie dit is.
  • Die skuld aan Magalies Water het gestyg van R400 000 na R15 miljoen.
  • Die personeel se moraal het in duie gestort en hulle is gereeld laat betaal.

Die DA beskuldig Sebola daarvan dat hy nie sy samewerking gegee het met die samestelling van die finansiële state van die 2016/2017-jaar nie, wat veroorsaak het dat dit ses maande laat ingedien is.

Hy het glo ook vir Marlene van Staden, burgemeester van Modimolle-Mookgophong, ondermyn deur nie op te daag vir afsprake nie en deur te weier om verslae oor die finansiële stand van die munisipaliteit te verskaf.

Luidens die verklaring het die raad verlede week besluit om kriminele klagte teen Sebola aanhangig te maak oor onreëlmatighede met sy salaris- en ander voordele.

  • Die Pos was onsuksesvol om telefonies of per e-pos met Sebola kontak te maak oor dié beweringe.

Related Articles

Back to top button