MunicipalNews

Situasie steeds gespanne: Werkers vandag betaal

Donderdag 31 Mei: Daar is ’n groot polisieteenwoordigheid in Mookgophong waar munisipale werkers die afgelope week buitebande brand en paaie versper uit protes omdat hulle salarisse nog nie betaal is nie.

 

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het laat Donderdagoggend in ’n verklaring gesê al die werkers is betaal.

“Jammer vir die vertraging. Die waarnemende munisipale bestuurder, Mapule Mokoko, het egter haar belofte dat almal voor die einde van die maand hul salarisse sal ontvang, nagekom.”

Die munisipale werkers voer aan dat ’n ooreenkoms reeds Dinsdagmiddag 29 Mei bereik is dat salarisse teen dié aand inbetaal sou word. Een persoon is deur die loop van Donderdagoggend in hegtenis geneem. Niks het egter gebrand nie en die stakers het rustig in klein groepies rondgestaan.

Die polisie het ook op Woensdag 30 Mei rubberkoeëls op die stakers afgevuur nadat die stakers glo voertuie met klippe bestook het. Die stakers het daarna uiteengegaan en lede van die sakeforum in die dorp het later gehelp om die strate op te ruim.

Die werkers het op Dinsdag 29 Mei en Woensdag 30 Mei paaie in die dorp versper en bande in Thabo Mbekistraat en Nelson Mandelalaan aan die brand gesteek.

Die werkers se woordvoerder, Ernie Mbiza, het aan Die Pos gesê hulle is ontevrede omdat hulle nie vandeesmaand hul salarisse betyds ontvang het nie. Volgens Mbiza het hulle eers op Vrydag 25 Mei kennis ontvang dat hulle laat betaal sou word.

Die stakers het Dinsdag vereis dat Mokoko hul griewe moes aanhoor. Sy was egter nie beskikbaar nie en was in Polokwane vir die dag. Nadat die stakers dié nuus verneem het, het hulle begin om vullisdromme in Nelson Mandelalaan uit te gooi en die sementvullisdromme af te breek.

Stoptekens by die kruising van Nelson Mandelalaan en Vierde Straat is ook afgebreek en op die grond gegooi. Buitebande is voor die hotel en by die verkeerslig voor Waltkon aan die brand gesteek terwyl die stakers luidrugtig gesing en geskree het.

Mbiza het gesê werkers is nou in die knyp omdat hul maandelikse aftrekkings en mediese verpligtinge het, wat hulle nie kan nakom nie weens die laatbetaling van hul salarisse. Een van die stakers, wat anoniem wou bly, het ook gesê dat hulle reeds in Februarie met die munisipale bestuurder (OP Sebola) oor die aangeleentheid van salarisse gepraat het.

Mbiza het aan Die Pos die versekering gegee dat “geen privaat eiendom beskadig sou word nie”.

“Mookgophong se invorderingstempo is te stadig om almal te betaal. Die stakers was alreeds verlede week in die munisipale bestuurder se kantoor oor die saak,” het Van Staden vroeër die week gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button