Local sportNewsSportSportSport

Munga-uithourit in Waterberg gehou

Die Munga-bergfietsuithouren wat oor 24-uur strek, is vanjaar buite Bela-Bela in die Waterberg gehou.

Die Munga-reeks word beskou as die taaiste bergfietsren ter wêreld en het sy ontstaan in 2014 gehad.

Daar is verskeie kategorieë waarin deelgeneem kan word en die verskillende veldrenne word reg deur die jaar gehou.

Waarskynlik die strafste van hierdie veldrenne is die 120-uur uithouren wat oor meer as ’n duisend kilometer in die Karoo strek.

Die wedren plaaslik is by Thaba Ditholo buite Bela-Bela gehou en staan bekend as The Munga Sword Series – 24 Hour – Waterberg.

Deelnemers moet soveel as moontlik rondes voltooi in ’n 24-uur tydperk en die wenner is die persoon wat die meeste rondes kan doen.

Die roete is in die Waterberg rondom Thaba Ditholo uitgelê en deelnemers moet die roete per GPS volg.

Dit is nie ’n vreeslike tegniese ren nie en dit is heeltemal moontlik vir nuwelinge om een of selfs twee rondes in die toegelate tyd te voltooi.

Na elke voltooide ronde verdien ’n deelnemer ’n streep met ’n rang.

Dit is egter net die top atlete wat daarin slaag om tien uitmergelende rondes te voltooi, om die gesogte rang van ‘generaal’ te verdien.

Die roete rondom Thaba Ditholo beslaan presies 50 km per ronde.

Daar was ongeveer 95 deelnemers wat aan hierdie jaar se ren deelgeneem het, en die wenner onder die mans, Hansie Joubert kon daarin slaag om nege rondes (450 km) te voltooi.

Sy vrou, Martie Joubert, was die wenner in die vroue afdeling en het agt rondes (400 km) voltooi.

Angelique Joubert van Thaba Ditholo sê dat hierdie jaar se ren so ‘n groot sukses was, dat die organiseerders besluit het om dit vir die volgende twee jaar weer hier aan te bied.

Waterberg-inwoners kan dus uitsien na ’n adrenalien gevulde avontuur met van die top sportmanne in die land, hier op ons eie drumpel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button