Local sportNewsSportSportSport

Sewestoernooi beloof rugbyfees

Rugby-entoesiaste kan hulself in September regmaak vir ’n fees van sewesrugby op eie bodem. Meer as sestig spanne gaan deelneem aan die Willem Strauss Internasionale 7’s-toernooi wat plaasvind by Hoërskool Nylstroom van 6 tot 8 September. As bonus bring die toernooi talle besoekers na die omgewing, wat die plaaslike ekonomie ’n inspuiting gee in terme …

Rugby-entoesiaste kan hulself in September regmaak vir ’n fees van sewesrugby op eie bodem.

Meer as sestig spanne gaan deelneem aan die Willem Strauss Internasionale 7’s-toernooi wat plaasvind by Hoërskool Nylstroom van 6 tot 8 September.

As bonus bring die toernooi talle besoekers na die omgewing, wat die plaaslike ekonomie ’n inspuiting gee in terme van verblyf, verkope en toerisme.

Die toernooi word gehou ter ere van Willem Strauss, die president van die Blue Bulls Rugby-unie (BBRU) wat ’n baanbreker van sewesrugby in Suid-Afrika was met die eerste @lantic 7’s-toernooi wat meer as twintig jaar gelede gehou is. Hierdie toernooi het ’n aantal Blitzbokke opgelewer.

Volgens Marius Schoeman, die hoëprestasiebestuurder van die Springbok Sewes, bied die toernooi die land se sewes mans- en vrouespanne die geleentheid om weer hul spanne te herbou in die nuwe siklus in die aanloop na die volgende Olimpiese Spele. “Ons sal die toernooi gebruik om nuwe talent te evalueer, terwyl ervare spelers soos Ricardo Duarttee ook in aksie sal wees,” het Schoeman gesê.

Volgens Renfred Dazel, afrigter van die Springbokke se vrouesewes, skep die toernooi meer speeltyd vir die elite vrouespelers in Suid-Afrika. Benewens die plaaslike spanne, is daar ’n aantal sewespanne van Afrika, wat Uganda, die huidige Afrika seweskampioene insluit, sowel as provinsiale spanne soos die Blue Bulls en universiteitspanne soos Tukkies en Stadio, wat aan die toernooi gaan deel neem.

Die toernooi vind plaas in vyf vlakke naamlik die mans internasionale afdeling, vroue internasionale afdeling, mans premier afdeling, skole o.17-afdeling en skole o.15-afdeling.
Een van die interessante toevoegings is die Dinamika SA Dowespan. “Hierdie is in lyn met ons doelwit om inklusief te wees en die toegang tot rugby te verbreed,” het Richard Janse van Rensburg, die direkteur van die toernooi gesê.

Al die wedstryde sal uitgesaai word deur SuperSport Schools.

Kaartjies vir die toernooi is beskikbaar by www.itickets.co.za. Vir navrae kan Janse van Rensburg geskakel word by tel. 082 673 3247.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button