NewsSportSportTravel

Basta met oorlog, sport en kultuur seëvier

Die 33ste Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, het ons vir 16 dae vasgenael voor ons televisiestelle laat sit.

Alle eer aan die Franse wat dit reggekry het om sport en kultuur op ’n manjifieke manier saam te snoer en te bevorder. Vanjaar se Spele was ook ’n bewys van sport se kernrol in die samelewing en vir vooruitgang.

Altesame 205 lande het aan die Somerspele deelgeneem en vir die eerste keer in die Spele se geskiedenis het ewe veel vroue as mans
(5 250) deelgeneem.

Terwyl die oorlog voort woed in die Gaza- strook en ook tussen Rusland en Oekraïne kon ’n mens die verwoesting saam met al negatiwiteit wat die wêreld so oorheers, eers eenkant toe skuif en die wonder van die Spele geniet.

Die Franse president Emanneul Macron het dit duidelik gemaak dat die Russies vlag nie by die Spele sal wapper terwyl Rusland oorlogsmisdade pleeg nie. Sportlui van Rusland en Belarus, die Russiese militêre bondgenoot, is sedert die inval in Oekraine in Februarie 2022 in talle sportsoorte verbied.

Die asemrowende opening met Franse flair en ook kontroversie, langs en op die Seinerivier op Vrydag, 26 Julie tot en met die afsluiting op Sondag, 11 Augustus in die Stade de France-stadion was eenvoudig onvergeetlik.

Die opening se sterk “woke”-tema met die omstrede uitbeeldings van onder meer die Laaste Avondmaal het egter tot wye kritiek gelei.

Nie eens die reën wat uitgesak het, kon die geesdriftige skare van sowat 500 000 langs die oewers van die Seinerivier se opgewondenheid demp nie. Tussen die prag en praal was daar die sportsterre wat in bote op die Seine vaar en met groot opgewondenheid hul landsvlae trots geswaai het.

Die beligting was fenomenaal en die kersie op die koek, was toe die Kanadese sangeres Celine Dion in ’n skitterwit rok doer bo-op die eerste vlak van die Eiffeltoring verskyn en die aand afsluit met L’Hymne à l’Amour. Dit was die eerste keer in vier jaar dat die sangeres weer solo-optree nadat sy met Moersch-Woltman-sindroom, ’n outo-immuun en neurologiese siekte, gediagnoseer is.

Die super vertonings van die atlete en hoë standaard was ongelooflik in die 32 verskillende items waarin meegeding is. Afrika het verreweg sy beste Spele ooit beleef. ’n Totaal van twaalf Afrika-lande se sportsterre het medaljes verower, met Kenia wat bo aan die lys pryk met elf medaljes.

Ons het dag vir dag en aand vir aand vasgenael voor ons kykkassies gesit om die Suid-Afrikaanse sportsterre soos Tatjana Smith in aksie te sien wat haar goue en silwermedaljes by die Spele verower het.

Ons is breëbors oor die silwer medalje van ons mans 4 x 100m aflosspan en Jo-Ann van Dyk se puik vertoning in spiesgooi wat aan haar ook ’n silwer medalje besorg het. Die sewesrugbyspan het sommer vroeg na die opening met ’n brons medalje weggestap en Alan Hatherly trap ook ’n brons los in bergfietsry.

Ons het ook kennis gemaak met die uitnemende sporttalent van sterre soos die Amerikaanse gimnas, Simone Biles wat huis toe is met die meeste medaljes nog verower in die geskiedenis van die Spele. Sy wen vyf goue, ’n silwer en twee brons medaljes.

Die moderne pers atletiekbane van die Stade de France was keer op keer volgepak met sowat 80 000 toeskouers wat na die wêreld se beste atlete in aksie kom kyk het.

Ons het minder bekende sportsoorte beter leer ken en saam met die res van die wêreld lekker gelag vir al die humoristiese oomblikke en sêgoed.

Tussendeur al die sportprestasies het ons die Franse argitektuur bewonder, meer geleer oor die land se geskiedenis en met monde wat water gekyk hoe die land se voorste sjefs Franse cuisine voorsit.

Die afsluitingseremonie in die Stade de France was net soos die opening, ’n skouspel van kleur.

Dit was die missie van die Hollywood-akteur, Tom Cruise, om soos in sy Mission Impossible flieks, vanaf die dak na benede af te sak om die Olimpiese vlag na Los Angeles in Amerika te neem. Hy het op sy motorfiets al brullende die vlag die stadion uitgeneem vir die 2028 Spele.

Wie weet, dalk sal Suid-Afrika in 2036 bie om die Spele te huisves?

Alle eer vir die ongelooflike beplanning en uitvoering van die Spele. Die reëlings en optredes van beamptes was met groot toewyding en erns gedoen.

Les bes het die kameraspanne, die joernaliste en redaksie-spanne gesorg dat ons al die pret en aksie in ons sitkamers, op sosiale media en in koerante kon beleef.

Lank lewe die Spele!

Related Articles

Back to top button