LettersSport

Brief: Bokke laat ons harte bokspring

Ons het ons monde góéd uitgespoel oor die alternatiewe trui wat ons al te veel aan Listerine herinner het.

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

“Baa, baa, All Black,
have you any ball?
Yes ref, yes ref,
but I lost it all:
one to the Springboks
and one to their country
and one to the president
who promised them a jol”

En so word al ons drome vir die Bokke toe waar!

Dít, nadat ons vanaf Vrydagaand 8 September tot Saterdagaand 28 Oktober rugby geëet, gedrink en (min) geslaap het.

Maar moet vir geen sekonde dink dat die hele ervaring ’n rustige plesiervaart op die Franse Riviera was nie. Allermins! Ons emosies het lanklaas só wipplank gery. Om nie van ons bloeddruk te praat nie.

Daar was volop en driftige gesprekspunte ná elke wedstryd, veral dié waarin die Bokke gespeel het. Ons het ons monde góéd uitgespoel oor die alternatiewe trui wat ons al te veel aan Listerine herinner het.

Ons het ook vinnig ’n groot bek opgesit as dit net lyk of die skeidsregter effens uit sy spoor trap. Jy bluf immers nie ’n fanatiese Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuner nie. Van fopspeen tot wankelbeen, manlik en vroulik, ken elke jota en tittel van die rugbyreëls.

Alles, maar a-l-l-e-s, was op die ou einde die moeite werd. Die gevoel van samehorigheid was onbeskryflik en die Springbokke het weer eens ons harte laat bokspring van trots.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button