BusinessLocal newsNews

Modimolle ’n finalis in Dorp van die Jaar

Die stemme is getel en Modimolle is aangewys as die KykNet-program Kwêla, se Limpopo-finalis in die Dorp van die Jaar-kompetisie.

Die aankondiging is Sondagaand, 23 Junie regstreeks op die program gemaak. Die Kwêla-span het hul besoek aan die dorp met die land gedeel.

Hulle het eerstens aangesit vir ete saam met Pepe Silvestri van Pepe’s Restaurant vir ’n bord heerlike Italiaanse kos. Silvestri het vertel dat die gebou waarin die restaurant is, uit die 1800’s dateer.

Die span het net ’n entjie verder by Eenheid Primary School gestop waar James van Zyl, voorsitter van die Waterberg Sakekamer, vertel het dat die monument voor die skool, die vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het, herdenk. Een van die kampe was geleë op die grond waar die skool nou is.

Gerda van der Merwe, die hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis, het vertel hoe hulle hul lywe entrepreneurs hou en die Abraham Koffiewinkel begin het om die gemeenskap op hul terrein te kry en deel te maak van die kinderhuis. Die koffiewinkel gee ook aan hul inwoners die geleentheid om handige vaardighede aan te leer en te sosialiseer met die gemeenskap.

Daarna het die span by Retha Stegman en Marlene Smit van Quilters Joy gaan kuier. Dié winkel se mure is behang met die fynste kwiltwerk. Vroue, wat ’n belangstelling in dié handewerk deel, kom elke Dinsdagoggend bymekaar.

Ina Lessing, die bekende konfytkoningin, was volgende aan die beurt. ’n Span singende en dansende werkers het die TV-span ingewag met stroopsoet konfyt en varsgebakte roosterkoek.

Lessing het vertel dat die konfyte landswyd beskikbaar is, maar ook in lande soos Engeland, Nieu-Seeland, Australië en Kanada.

David Riddle van die Koro Creek-gholfbaan het die span vertel dat die kinders wat daar woon “free range” is met baie spasie om te speel en rond te hardloop. Die gholfbaan bied ook die nommer 1-gholfervaring in Limpopo, het hy gesê, met ’n wye reeks kompetisies wat reeds daar aangebied word.

Paul Els van Nylstroom-taksidermie het verduidelik dat 75% van hul trofeë vir die buitelandse mark bestem is, en dat dié ekonomiese inspuiting van buite af die dorp baie baat. Meeste van die lewensgetroue trofeë is vir uitvoer bestem.

Hlamarisa Baloyi van Sampada Agri in Alma het vertel dat tussen 600 en 700 ton aarbeie hier geoes word. Besoekers kry die geleentheid om aarbeie te pluk en daarna iets by die Leeuwenhof Lodge te gaan geniet. Sy het gesê Modimolle is ’n klein dorp met baie om te bied.

Jan en Jolande Ebersohn van Dorsland het vertel dat dit ’n “lekker plek” is waar die inwoners van die dorp na lewendige musiek kom luister en kuier.

Martiens Joubert het aan die span vertel dat die dorp se inwoners en die sakekamer wys dat hulle saam wil werk om die dorp vorentoe te neem. “Hier is ’n harmonie wat tussen die inwoners heers.”

Organisasies soos die sakekamer, Aksie Opknap en ander wat agteruitgang in die dorp wil keer, is opgewonde oor die moontlikheid van ’n miljoen rand prysgeld wat aangewend kan word vir onderhoud en herstel.

Hulle is dit eens dat dit nie net oor die dorp self gaan nie, maar ook oor die harte van die inwoners.

Benewens die R1 miljoen wat Lottoland skenk, kry die wendorp R1 miljoen se bemarkingswaarde van KykNet met ’n 45 sekonde advertensie wat oor die dorp handel. Daar sal ’n groot opskop op die dorp gehou word wat deur die filmspan van Kwêla opgeneem word.

Waterberg-inwoners kan hulself regmaak om hul stemme agter Modimolle in te gooi tussen 14 en 18 Julie, wanneer al die finaliste bekend gemaak word.
Die uittreksel is te sien op KykNet se Facebookbladsy. https://fb.watch/sWuV45HPNF/

Related Articles

Back to top button