BusinessFinance AdviceLocal newsNews

2024-Verkiesing: Sakelui het meer mag as wat hul besef

Wat hou die komende verkiesing in? Lede van die Waterberg Sakekamer het op Woensdag, 17 April geluister na prof. Koos Malan, ’n kenner van konstitutionele reg, se mening oor hoe die verkiesing op 29 Mei gaan uitspeel.

Die sakekamer se maandelikse vergadering is by La Brousse Bistro in Modimolle gehou. Prof. Malan is verbonde aan Sakeliga.

“Geen magsbasis moet oor te veel mag beskik nie. Dit is in die menslike aard om dit te misbruik,” het prof. Malan die gehoor vertel.

Hy het gesê dat daar ’n wig en ’n teenwig moet wees en dat sakeondernemings en burgerlike organisasies toenemend hierdie rol vervul. Groot sakeondernemings wat sake met die regering doen en afhanklik is van die toekenning van lisensies en kontrakte, se hande is egter gebind.

“Klein ondernemings wat georganiseer is, speel ’n al hoe belangriker stabiliserende rol, veral omdat die regering toenemend nie sy pligte kan vervul nie, bv. die voorsiening van water en paaie.” “Tot nou toe was dit ’n voldonge feit dat die ANC se kandidaat die president gaan wees. Peilings wys egter dat hulle heel moontlik nie ’n volstrekte meerderheid sal behaal nie,” het hy gesê. “Die grondwet sê die president – die een wat die meeste stemme kry – kan die kabinet saamstel. Die partye gaan met mekaar moet onderhandel wie hulle gaan steun en doen moontlik reeds.”

Hy voorsien dat indien die partye wat aan die Veelpartyhandves behoort (o.a. die DA, IVP, VF Plus, ActionSA, ACDP en ander), saamwerk, hulle moontlik die IVP se leier, Velenkosini Hlabisa, as presidentskandidaat sal kies en ander partye oortuig om ook vir hom te stem. Indien hulle saam met die ANC werk, mag Ramaphosa moontlik die kandidaat wees.

“Die nuwe president se taak sal wees om meer as 200 stemme in die Nasionale Vergadering te verkry sodat die regering stabiel sal wees.”

Volgens hom kwalifiseer die voormalige president, Jacob Zuma, nie om as parlementslid te dien nie, ná sy tronkstraf.

“Maar daar het al vreemde dinge in politiek binne die bestek van enkele dae gebeur,” het hy gelag.

Sou die ANC, EFF en MK-party besluit om kragte saam te snoer, kan hulle moontlik 60% van die steun kry.

“Dit sal beteken dat min eintlik verander het,” het hy gesê.

Hy voorsien egter dat die vyandskappe tussen Zuma en Ramaphosa in die pad daarvan sal staan. Die ANC mag moontlik van Ramaphosa ontslae raak. Volgens Malan is die persone en persoonlike vyandskappe dikwels sterker as ideologiese ooreenstemmings en hy twyfel of dié drie partye met hul sterk persoonlikhede as leiers (Ramaphosa, Zuma en Julius Malema) tot ’n ooreenkoms sal kan kom.

Wat die effek van die verkiesing op sakeondernemings sal hê, sê hy dat Suid-Afrika onlangs die grootste kapitaal-uitvloei ooit beleef het.

“Die finansiële markte het die moontlike koalisies reeds verreken.”

Die Handvespartye sal volgens peilings slegs op ongeveer 38% van die stemme kan reken. Hulle mag moontlik met die ANC saamwerk.

“Dit sal egter ’n swakker ANC wees, wat se selfvertroue geknou is. Daar is voordele daarin,” het hy gesê.

Indien die MK-party nie hul sin in KwaZulu-Natal (KZN) kry nie, mag daar moontlik oproer wees aangesien dit Zuma se laaste kans is.

“Ons mag die eerste tekens sien dat KZN weg van Suid-Afrika af begin beweeg.”

Hy glo nie dat mense deesdae sterk genoeg oor die ANC voel om oproerig te raak indien die party nie na wense presteer nie.

’n Koalisie-regering is ’n nuwe veld vir Suid-Afrikaanse politiek.

“Corné Mulder van die VF Plus het in Duitsland gaan leer hoe hulle regeer met ’n koalisie van vyf partye.”

Voorafbepaalde ooreenkomste sal baie belangrik wees om stabiliteit te waarborg.

Volgens hom toon die peilings tans dat die uitslag só mag lyk: ANC (36%), DA (20%), IVP (5%), ActionSA (2-3%), VF Plus (2-3%), PA (3-4%).

“Suid-Afrika is op ’n trajek van staatsverval. ’n Koalisie sal dit nie kan keer nie, maar wel tot stilstand bring. Die verval het ongelukkig wortel geskiet in die staatsdiens,” het hy gesê.

Dié verval het egter tot gevolg dat baie staatsfunksies deur sakelui vervul begin word, bv. veiligheid en logistiek.

”Ons gaan al meer sien dat kleiner organisasies op sekere plekke ‘regeer’ en sake in stand hou,” het hy gesê. “In ’n sin is die verkiesing ten dele van mindere belang.”

Hy het aan die gehoor gesê dat ’n mens eers dikwels ná die tyd besef dat jy in die middel van ’n geskiedkundige gebeurtenis gestaan het.

“Dit is tyd dat Suid-Afrikaners hul eie vermoë herontdek. Hulle was vir baie jare lank daarvan vervreemd.”

Die Waterberg Sakekamer se volgende byeenkoms is op Woensdag 15 Mei. Hul gholfdag vind op Saterdag 10 Mei by die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle plaas.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button