BusinessIndustry NewsLocal news

Ekonomiese inspuiting vir drie dorpe welkom

’n Groot ontbenings- en vleisverwerkingsfabriek word in Modimolle opgerig, die Euphoria-gholflandgoed buite Mookgophong kry’n hotel en bykomende 100 kamers asook drie konferensiesentrums. Die ou Waterfront in Bela-Bela is deur dieselfde onderneming gekoop wat in die komende jaar ’n winkelsentrum sal ontwikkel. Dié ontwikkelings bring volgens Sampada Agri broodnodige werksgeleenthede vir inwoners. Sampada Agri het vyf …

’n Groot ontbenings- en vleisverwerkingsfabriek word in Modimolle opgerig, die Euphoria-gholflandgoed buite Mookgophong kry’n hotel en bykomende 100 kamers asook drie konferensiesentrums. Die ou Waterfront in Bela-Bela is deur dieselfde onderneming gekoop wat in die komende jaar ’n winkelsentrum sal ontwikkel.

Dié ontwikkelings bring volgens Sampada Agri broodnodige werksgeleenthede vir inwoners.

Sampada Agri het vyf jaar gelede die Leeuwenhof Country Lodge buite Modimlle gekoop en het sedertdien 22 hektaar aarbeie in tonnels gevestig met nog tien hektaar wat binnekort volg. Daar word volgens hulle tot tien ton aarbeie per dag vir uitvoer na die Midde-Ooste toe geoes. Hulle plant ook verskeie gewasse, waaronder springmielies vir die Kanadese mark. Sowat 250 mense is hier in diens.

Bafedile Mafologele en Johan Abrie tydens ’n onlangse vergadering by die Waterberg Sakekamer.

Sampada, wat verskeie winkelsentrums in onder meer Diepsloot, Tembisa, Tzaneen en Siyabuswa besit, het vyf beesplase in die Rankinspas-omgewing bekom om aan die vraag na vleis te voldoen, het Johan Abrie, besturende vennoot in die rooivleiswaardeketting, gesê. Benewens die Bonsmara- en Beefmaster-aanteelkudde is daar ook sowat 1 000 beeste in die voerkraal met ’n tweede voerkraal by Leeuwenhof.

Cedric McDermott (konstruksiebestuurder) en Johan Abrie by die nuwe vleisverwerkingsaanleg in Modimolle.

“Planne om ’n voerkraal buite Modimolle op te rig met kapasiteit vir 20 000 beeste is in proses”, het Abrie gesê.

Die beeste, wat by ’n slagpale in Gauteng geslag word, sal by die aanleg in Modimolle verwerk word.

“Die aanleg het tans die kapasiteit om 75 beeste per dag te verwerk, maar die basiese infrastruktuur is reeds daar om dit bykans te verdriedubbel,” het Abrie gesê.

Die ontwikkeling sluit ’n kleinhandelslaghuis in asook ’n drankwinkel en restaurant waar die beste snitte verouderde vleis genuttig kan word. Volgens Abrie maak die aanleg van wêreldklastegnologie gebruik. ’n Mini-substasie is geïnstalleer, asook groot watertenks om te verseker dat die werk sonder oponthoud kan voortgaan. Die eiendomme om die aanleg is ook bekom vir toekomstige ontwikkeling.

“Sampada wil in beheer van die hele waardeketting wees — van die bees in die voerkraal tot waar die vleis gekoop word,” het Abrie gesê. “Ons het gevind dat wisseling in vleispryse nie noodwendig aan die verbruiker deurgegee word nie. Wanneer vleis se prys daal, reflekteer dit dikwels nie op die winkelrakke nie. Ons het ’n nuwe sagtewareprogram saam met Freddie Hirsch ontwikkel wat ons pryse aan die markprys sal koppel.”

Die aanleg sal na verwagting 70 werksgeleenthede skep, het hy gesê.

By Euphoria word die waterpark uitgebrei en drie konferensiesentrums opgerig, waarvan die grootste 450 mense kan akkommodeer, het Cedric McDermott, konstruksiebestuurder van die maatskappy, gesê. Die nuwe hotel, met

’n restaurant en swembad op die tweede verdieping, sal 70 kamers hê. Nog huise word op die landgoed gebou wat ’n verdere 30 kamers sal hê. Meer as R150 miljoen word aan die uitbreidings bestee.

“Die doelwit is om Euphoria die bestemming van keuse vir enige konferensie in Limpopo te maak,” het Abrie gesê.

Modimolle is blykbaar vir die ontwikkeling van die aanleg gekies danksy sy sentrale ligging.


Meer oor Sampada Agri

Die man agter Sampada is Bafedile Mafologele, ’n sakeman in sy dertigs. Mafologele, ’n geoktrooieerde rekenmeester en fondsbestuurder, is oorspronklik van Tzaneen.
Sampada Agri is ’n been van die beleggingsfirma Sampada Private Equity wat bestuur word deur Umthombo Wealth, waarvan Mafologele ’n direkteur en eienaar is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button