BusinessFinance AdviceMarket Advice

Finansies: Beleggings: Wat jy moet weet (deel 4)

In hierdie week se uitgawe bespreek ons die faktore wat ’n rol by beleggings speel.

Ons het reeds die risiko’s bespreek en nou kyk ons na termyn, opbrengs, groei en likiditeit .

Dit word gedoen deur na die onderskeie bateklasse (kontant, effekte, vaste eiendom en aandele) te verwys.

Kontant. Hierdie bateklas is die enigste bateklas waar die termyn van belegging kan strek van onmiddellike beskikbaarheid tot langtermyn. Geld sal in ’n gewone spaarrekening of geldmarkfonds by opvraging beskikbaar wees sonder enige penalisering. Die rente wat verdien word is gelykmatig en skep sekerheid aan die belegger wat betref opbrengs of die groeiverwagtinge van geld.

Kontant in vaste deposito’s kan oor verskillende termyne belê word teen ’n vasgestelde koers. Dit is dalk nie so likied (maklik bekombaar) nie, maar skep sekerheid vir kapitaal wat vir spesifieke doelwitte oor langer termyne belê moet word. Markrisiko op geld word sodoende byna uitgeskakel.

Effekte. Beleggers wat van hierdie bateklas gebruik maak, het eerder langer termyn doelwitte en ook ’n behoefte aan groter sekerheid wat opbrengs betref en wil nie die markrisiko van aandele trotseer nie. Effekte, en ook kontant, as deel van ’n effektetrustfondsbelegging voorsien aan beleggers hierdie opsie, maar jy kan ook self direk in effekte belê. Omsigtigheid word vereis wanneer jy ’n effek vroeër as die gegewe termyn afkoop, want jy kan byvoorbeeld kapitaalverlies ly indien rentekoerse intussen gestyg het. Kundigheid is hier belangriker as by kontantbeleggings.

Vaste eiendom. Wat termyn as faktor betref word belegging in vaste eiendom by verreweg die meeste van die tyd as langtermynbelegging bedoel ten einde wesenlike kapitaalwins te verseker.

Likiditeit is baie laag, want vaste eiendom word nie vinnig van die hand gesit nie. Goeie opbrengste is ter sprake, maar dan moet geduld die wagwoord wees. Die koste kan ook baie hoog wees soos vir hereregte, aktevervaardigersfooie en ander kostes wat met eiendomme gepaard gaan.

Aandele. Hierdie bateklas is die een met die hoogste risiko vir die gewone belegger. Hoe hoër die risiko, hoe hoër die verwagte opbrengs. As jy nie ’n spekulant is nie, maar wel ’n ernstige belegger van byvoorbeeld aftreegeld, is aandele altyd ’n langtermynbelegging vir daardie deel van jou geld wat jy ná so 12 jaar of langer nodig sal kry om van te leef.

Dit is wel ’n likiede belegging, want jy kan jou aandele maklik verkoop as dit op ’n aandelebeurs (bv. JSE in Suid-Afrika) belê is. Aandelemakelaars en portefeuljebestuurders verhandel daagliks aandele namens kliënte. Aandele vorm ’n baie belangrike deel van portefeuljes wanneer dit by effektetrustfondse kom wat namens kliënte bestuur word.

Belasting is nog ’n faktor wat beleggingsbeplanning en gepaardgaande besluite beïnvloed. Ons sal dit volgende keer hanteer asook agtergrond gee oor effektetrustfondse en die voordele daarvan vir die individuele belegger. Effektetrustfondse bied ’n belegger die moontlikheid om te midde van die risiko’s wat bestaan, goeie en oordeelkundige verspreiding van hul kapitaal tussen die verskillende bateklasse te bied.

Related Articles

Back to top button