Business

Finansies: Begin jou eie sakeonderneming

Dit word deesdae al hoe moeiliker om ’n ordentlike werk te kry of om behoorlik vir aftrede te spaar.

Die keuse om ’n eie sakeonderneming te begin, kan nie net ’n uitmuntende loopbaangeleentheid wees nie, maar ook ’n finansiële instrument om aftreegeld aan te vul. Dalk kan hierdie artikel net die regte vlam vir jou brandhout wees.

Daar is natuurlik risiko’s, maar ook baie moontlikhede. Afhangende van jou finansiële behoeftes, kennis, gesondheid, wilskrag en emosionele ingesteldheid, is die geleenthede altyd daar.
Gaan lees gerus op oor topsakemanne en -vroue. ’n Plaaslike entrepreneur van Modimolle wat nie meer met ons is nie, het met feitlik niks op kleinskaal ’n sakeryk opgebou. Hy het met slegs gr. 11 agter die blad ’n boedel van miljoene rande opgebou. Dan was daar Tony Factor in die sewentigerjare wat aan disleksie gely het. Hy kon nie lees of skryf nie en hy het groot klere- en meubelwinkels gehad.

Hy het op baie klein skaal begin en hom nie deur hindernisse laat afsit nie.

Daar is talle voorbeelde in ons eie dorpie: van pannekoekverkopers en motorwasserye tot padstalletjies, kafees en selfs groot kettingwinkels. Dan is daar ook nog die internet waar baie mense suksesvol handel dryf sonder enige kapitaalinvestering.

Daar is professionele hulp beskikbaar en talle suksesvolle entrepreneurs wat bereid sal wees om te help met raad en dalk daad. ’n Mens moet net die wil hê en besluit wat jou passie is: ’n produk of dalk ’n diens wat jy wil lewer.

Navorsing oor jou produk of diens is baie belangrik, maar die belangrikste eienskap volgens prof. Jurie van Vuuren van die Universiteit Pretoria se departement besigheidsbestuur, is absolute deursettingsvermoë en die wil om hard te werk. ’n Entrepreneur of sakepersoon het nie werkure nie en moet bereid wees om meer as net die normale werkure per dag in te sit. In Engels praat hulle van “guts”.

’n Sakeonderneming kan verskillende regsvorme hê: Eenmansaak, beslote korporasie, privaat maatskappy, venootskap of besigheidstrust. As jy klein begin met baie min of dalk geen aanvangskapitaal nie, begin jy as ’n eenmansaak of met ’n vennootskap as jy ’n familielid of vriend kan betrek.

’n Sakeplan kan baie help as jy na ’n belegger vir jou onderneming soek. Aspekte soos die presiese mark wat jy wil betree, kontantvloeiprojeksies, regsaspekte en belasting kom ter sprake.

Jy moet sekerlik ook weet hoe en waar jy jou produk of diens aan jou geselekteerde mark wil bekendstel. Gaan jy self inklim of gaan jy van die begin af werker(s) hê. Tik net “besigheidsplan” op die soekenjin aanlyn en jy sal baie inligting hieroor kry.

Wanneer jy jou aanvanklike huiswerk gedoen het en jou passie behou, sal jy agterkom dat die risiko’s nie meer sulke groot struikelblokke is nie.

Sukses kweek sukses en die vervulling wat entrepreneurs uit hul sakebelange kry, is enorm. Wie weet: As jy probeer en jy slaag, hoef jy nooit te wonder hoekom jy dit nie gedoen het nie. Jy sal ook vir jouself ’n eie welvaart en ook werk vir ander kan skep.

En wanneer dit by aftrede kom, sal jy beslis baat by die ekstra inkomste wat jy voorsien het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button