BusinessInternationalInternational NewsLetters

Brief: Suid-Afrika het ekonomiese groei nodig, nie net ’n groter begroting nie

Jaar na jaar word daar van Jan Alleman verwag om al hoe meer te betaal sonder om daarby te baat.

Henry Geldenhuys, TLU SA-president, skryf:

Die 2024 begrotingsrede skep vir Suid-Afrika ’n dooie ekonomie. Ons staatskuld het met ons weggehardloop en dit kan nie meer onderhou word nie.

’n Mens, of in dié geval, ’n land, kan hulself nie uit skuld uit leen nie, jy moet jouself daaruit presteer.

Die inwoners van Suid-Afrika is vuisvoos van al die wanaanwending van fondse en korrupsie. Jaar na jaar word daar van Jan Alleman verwag om al hoe meer te betaal sonder om daarby te baat.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het tydens die begrotingsrede bekend gemaak dat die regering belasting verhogings van altesaam R15 miljard in 2024/25 voorstel. Die regering ontvang tans R738,7 miljard belastinginkomste vanaf persoonlike inkomste. Die minister het ook genoem dat daar weer soos in 2022 en 2023 geen verhoging gaan wees in brandstofheffing of die padongeluksfondsheffing nie. Dit sal belastingverligting vir die publiek bring.

TLU SA waarsku die publiek daarteen om die begroting te sien as niks minder as net ’n instrument van die regerende party nie. Die begrotingsrede is veronderstel om ’n uiteensetting te wees van: ‘die belastinggeld wat julle (belastingbetalers) vir ons (regering) gee, gaan ons só gebruik vir julle (belastingbetalers) voordeel’. Dit is egter hoegenaamd nie die geval vir die landbou industrie nie. Slegs R6 miljard is in die mediumtermyn-uitgaweraamwerk toegeken om hervestigde boere deur grondherverdeling en verblyfreg-hervormingsprogramme te ondersteun. R27,7 miljard is ook toegeken aan landbou en landelike ontwikkeling.

Ons vraag aan die regerende party is dus: Wat word gedoen met ons geld, en waar is die ondersteuning aan ons kommersiële boere?

“Ons land se begroting is veronderstel om ’n omgewing te skep wat groei stimuleer deur geleenthede vir inwoners te skep om besigheid te bedryf. Hiervoor het ons ’n werkende infrastruktuur nodig. Ons word met elke begroting en in elke verkiesingsjaar beloof dat ons paaie en spoorweë aandag gaan geniet, maar tog sien ons nie ’n verbetering nie,” sê Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder.

As ons fokus op ekonomiese groei en om ’n teelaarde vir nuwe sakeondernemings te skep, sal ons kwessies soos werkloosheid aanspreek. Dit sal ook beteken dat minder geld aan maatskaplike toelaes geallokeer moet word.

TLU SA verwys na ’n versoek wat hulle in Desember 2023 aan die regering gerig het: “Bemagtig landbou om self-voorsienend te wees deur ’n vergunning om in goeie jare wins belastingvry te kan spaar. Sodoende sal die land se voedselvoorsieners tydens krisistye bepaal wat hulle self kan doen in die lig van ’n afwesige regering.”

Minister Godongwana het sy toespraak afgesluit deur Suid-Afrikaners te herinner dat die hoofboodskap van die 2024 begrotingsrede is dat die regering die beste maak met baie beperkte hulpbronne. TLU SA wil egter antwoord en sê dat as kundiges, en nie diegene wat ons in die situasie laat beland het nie, deurlopend fokus op groei en instandhouding, sou ons hierdie omstandighede kon vermy.

Related Articles

Back to top button