BusinessInternationalInternational NewsLetters

Brief: Begroting 2024: Geen silwer rand aan Suid-Afrika se donker fiskale wolk

Dit is uiters problematies. ’n Regering wat nie meer vir toekomstige onsekerhede beplan nie, het reeds gefaal.

Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: finansies, skryf:

Die nuwe begroting wys dat Suid-Afrika diep in die moeilikheid is met ’n groeiende begrotingstekort en meer staatskuld wat moet bekom en gefinansier moet word.

Hierdie is sekerlik die mees ontstellende begroting van die afgelope 30 jaar. Dit wil voorkom of die ANC besef hy is op pad uit en nie meer omgee hoe diep in die moeras hy die land agterlaat nie.

Een van die mees onstellende aspekte van die begrotingsrede is dat dit gepaard gaan met ’n wetsontwerp wat poog om R100 miljard uit die Goud- en Buitelandse Valuta Gebeurlikheidsfonds (Gold and Foreign Exchange Contingency Reserve Account) te neem om die begrotingstekort aan te vul.

Dit is uiters problematies. ’n Regering wat nie meer vir toekomstige onsekerhede beplan nie, het reeds gefaal.

Alhoewel daar geen persoonlike inkomstebelastingverhogings is nie, is daar ook nie nodige verligting gegee nie. Die gebruiklike aanpassing van die belastingkerf en mediese fonds-krediete, vind nie hierdie jaar plaas nie.

Dit beteken in werklikheid dat betalers van persoonlike inkomstebelasting slegter daaraan toe is.

Dit gaan dalk oor die kort termyn die staat se inkomste verhoog, maar oor die lang termyn sal dit nie ekonomiese groei stimuleer nie. Belastingbetalers verarm terwyl die belastingbasis krimp.

Staatskuld vir die 2023/24-finansiële jaar is R84 miljard (byna 18%) meer as oorspronklik beraam en staan op R470 miljard. Die begrotingstekort vir 2024/25 word beraam op R320,9 miljard.

Die totale staatskuld vir 2024/25 gaan verhoog tot R5,5 biljoen en die finansieringskoste gaan dan na raming R380 miljard beloop, meer as ʼn miljard rand per dag.

Boonop beslaan die staat se salarisrekening nou R754 miljard van die totale begroting van R2,37 biljoen.

Wat infrastruktuurontwikkeling behels, wys die minister se optrede dat sy ondernemings slegs lippetaal is.

Terwyl hy praat oor infrastruktuurbesteding, neem een van die wetsontwerpe wat hy ter tafel lê, R70 miljoen weg van openbare werke en infrastruktuur vir die 2023/24-finansiële jaar en wys dit toe aan die presidensie.

Die ekonomiese groeikoers wys dat daar geen silwer rand aan die donker fiskale wolk is wat oor Suid-Afrika hang nie. Nasionale tesourie (NT) se geskatte ekonomiese groei oor die volgende twee jaar is ’n geringe 1,6%.

Die tesourie het boonop die gewoonte om die groeikoers jaarliks te oorskat. Dit voorspel dat daar geen verligting in die vooruitsig is nie en dien as bewys dat die ANC se beleidsrigtings faal om geleenthede te ontsluit en ekonomiese groei te bewerkstellig.

Die aankondiging dat ’n universele minimum belastinghoeveelheid vir maatskappye oor die volgende paar jaar ingestel word, is skadelik vir die groei van sakeondernemings en skaad beleggingsvertroue.

Multinasionale ondernemings met ’n jaarlikse inkomste van meer as €750 miljoen (R15,241 miljard) gaan onderhewig wees aan ’n belastingkoers van 15% ongeag of die winste in Suid-Afrika gegenereer is.

Dit gaan lei tot ’n uittog van internasionale maatskappye wat in die land belê.

Daar is net een manier hoe elke Suid-Afrikaner van hierdie weghol vragmotor van skuld en agteruitgang kan ontsnap, en dit is om in Mei by die stembus van die ANC ontslae te raak.

Related Articles

Back to top button