InternationalLocal newsNews

Internasionale joernalistedag herdenk

Internasionale Joernalistedag word sedert 2013 op 2 November herdenk.

Die algemene vergadering van die Verenigde Nasies het tydens die 68ste sitting in 2013 besluit om ’n internasionale dag vir misdade en uitbuiting teen joernaliste in te stel.

Joernaliste stel dikwels hul eie lewens in gevaar om die publiek op hoogte van sake te hou. Die Pos het met ’n bekende joernalis en bekroonde fotograaf gepraat om hul mening te kry oor die rol van joernaliste in die gemeenskap.

Die verslaggewer, wat anoniem wil bly en voorheen vir ’n bekende mediagroep gewerk het, vertel ontstellende verhale oor kollegas wat deurgeloop het.

Herman Steyn moes koes vir die klippe terwyl hy hierdie foto’s in 2016 vir Die Pos geneem het.

“Bykans elke joernalis kan ’n angswekkende storie vertel van hoe hulle gedreig, geteister of beledig is deur mense oor wie hulle berigte geskryf het,” het die persoon gesê.

Dit was in die vorige politieke bedeling veral hofverslaggewers wat deurgeloop het onder beskuldigdes wat van ernstige misdade aangekla is en dan wraak wil neem omdat daar oor hul hofsake berig is. Daar is talle verslaggewers wat polisiebeskerming moes kry omdat hulle of hul gesinne gedreig word.

“Ongure karakters is ook baie lief daarvoor om joernaliste te probeer ‘terugkry’ deur vals profiele te skep waardeur hulle dan dié joernaliste wil bykom deur hulle by aanlyn pornografiese aktiwiteite te probeer betrek,” vertel die verslaggewer.

“Nadat die ANC-regering in 1994 aan bewind gekom het, was daar ontsettend baie ondersoekende joernaliste wat slagoffers geword het van hoëprofielamptenare en -politici wat verslaggewers gedreig het wanneer hul wandade oopgevlek is. Doodsdreigemente, kinders wat met ontvoering of die dood gedreig word, eiendomsbeskadiging en uiterste sielkundige afpersing is van die min dinge wat hierdie joernaliste moes ervaar. En booswigte en hul siek trawante voeg dikwels daad by die woord. Dit bly nie altyd by dreigemente nie. Gelukkig is die pen nog al die eeue magtiger as die swaard en die einste sosiale media word dikwels ingespan om kriminele boelies verder te ontbloot.”

Fotograwe moet ook soms koes vir klipgooiers, rubberkoeëls en selfs lewendige ammunisie. Die Pos se bekroonde fotograaf, Herman Steyn, het al verskeie kere deurgeloop en tydens die onluste in Modimolle en Vaalwater in Februarie 2016 is sy voertuig byna aan die brand gesteek.

Hy moes ook lelik koes vir ’n kettieskieter wat sy visier op hom gehad het.

“As die adrenalien begin pomp is daar nie tyd om bang te wees nie. Die opstokers hou van die kamera en ek gaan so ver as moontlik om die aksie te kry. Jy moet maar kanse waag en dit is in my bloed,” het hy gesê.

Suid-Afrikaanse joernaliste kom jaarliks in aanmerking vir die Alet Roux-toekenning wat aan die belowendste opkomende joernalis van die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) behoort.

Roux is in 2000 vermoor terwyl sy plaasmoorde ondersoek het en die toekenning is ter ere van haar tot stand gebring.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button