BusinessInternational

Finansies: Beleggings: wat jy moet weet – deel 3

In die vorige rubriek het ons begin om die faktore wat beleggings beïnvloed te bespreek — net soos daar faktore is wat die weer beïnvloed. Jy wil graag mooiweer hê wat jou beleggings betref.

’n Mens wil nie graag dat onverwagse stormwinde jou beleggingsplan wegwaai en jy nie geld het om jou en jou geliefde eendag behoorlik te versorg nie.

Onthou dat ons hier reeds die bateklasse en hul toepaslike instrumente waarin belê word, bespreek het. Risiko as faktor is reeds bespreek met betrekking tot die bateklas kontant. Vandag kyk ons na die risiko-effek wat betref die res van die bateklasse naamlik effekte, vaste eiendom en aandele.

Effekte:

Hierdie is beslis ’n konserwatiewe beleggingsinstrument. Ietwat meer riskant as kontant, maar steeds met redelike min veranderings oor die korttermyn. Die eenvoudige rede is dat effekte lenings is wat ek en jy aan die regering maak en die kans dat ’n regering sommer bankrot speel, is baie klein.

Hulle leen op hul beurt net weer elders geld of verkry buitelandse beleggingskapitaal om die land se begroting te laat klop.

Regerings verdwyn ook nie sommer nie en al verander die regerende party soms, bly effekte voortbestaan en kry jy steeds opbrengs op jou belegging. Effekte verhandel ook nie op die ope-mark nie en word dus nie, soos aandele, aan markrisiko’s blootgestel nie.

Daarom is effekte ’n goeie keuses vir jou as jou behoefte vir ’n belegging oor ses tot 18 maande termyn is. Die groei is stabiel en jy kan selfs tot drie jaar in hierdie bateklas belê.

Vaste eiendom:

Hierdie is ’n lekker een, want ’n grond- of geboue-eienaar is noodwendig ’n persoon met ’n kapitaalbasis. Al is dit bloot net jou woonhuis.

Vra jouself die vraag af of jou woonhuis as belegging beskou kan word. Vir party mense kan dit nogal lonend wees, maar nie vir almal nie.

My mening is dat ’n woonhuis altyd net die basiskapitaal bied vir eendag se dak oor jou kop. Jy kan nie daardie kapitaal as inkomstebron vir byvoorbeeld jou aftreejare beskou nie.

Die risikofaktor by belegging in vaste eiendom is gewoonlik darem redelik veilig — afhangende van die ligging.

’n Woonhuis naby ’n industriële gebied mag dalk ’n risiko vir jou veiligheid inhou, maar op langtermyn mag beleggers jou dalk ’n aardige bedrag aanbied omdat dit dit skaars grond is. Koop jy ’n winkel vir jou sakeonderneming waar daar baie kliënte is, kan dit ook op medium- tot langer termyn goeie opbrengs bied. Ligging, ligging, ligging is ’n mantra van die eiendomsmark. Die kundige wat dié slagspreuk bekend gemaak het, was in die kol. Ligging van vaste eiendom moet goed nagevors word, want dit beïnvloed die risiko daarvan.

Aandele:

Omdat jy aandele in sakeondernemings koop en dit ’n hoë risiko het, is aandele as sulks riskant, maar op langtermyn geneem (12 jaar en langer), word die risiko baie laer terwyl opbrengs steeds inflasie behoort te klop. As die maatskappy waarin jy belê ontbind of gelikwideer word, kan jy ’n deel of selfs al jou geld verloor. Ekonomiese toestande en bedryfsukses is faktore wat ’n belegger nie kan beheer nie. Aandeelpryse is wisselvallig en meesal onvoorspelbaar. Dit maak die risiko hoog.

Om aandele op die aandelebeurs te koop en te verkoop word spekulasie genoem, want dit beteken die belegger is daarop uit om groot risiko op korttermyn in hierdie bateklas te waag. So ’n belegger vat kanse in die hoop dat sy gevoel of inligting korrek is. Dit is iemand wat koop en ’n vinnige wins maak deur redelik gou weer te verkoop.

Hierdie is eintlik die werk van gesofistikeerde aandele-makelaars of portefeuljebestuurders en nie die plek vir ’n leek of selfopgeleide persoon nie.

Jou geld wat jy in die toekoms gaan benodig behoort veilig belê te word in batefondse wat goed bestuur word. Volgende keer meer oor dié onderwerp.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button