Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die parkie in Reitzstraat in Bela-Bela het in nagmerrie vir inwoners ontaard. Die terrein word deur kwaaddoeners gebruik en die parkie word nie onderhou nie of skoongemaak nie. Die Pos het die afgelope jaar gereeld foto’s van die parkie se haglike toestand gepubliseer, waarna dit opgeruim word, net om weer vervalle te raak. Dié foto is vandeesweek geneem.

 

Rou riool het op Donderdag 16 Julie in Flamboyantstraat in Bela-Bela afgestroom tot in die vlei oorkant Kiewietsingel. Inwoners is moedeloos omdat dié probleem reeds verskeie kere aangemeld is. Volgens die munisipaliteit is daar herhaalde tegniese probleme by die Bospoort-pompstasie. Tinus Ras, DA-wyksraadslid, asook Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het albei aan Die Pos gesê hulle kry min samewerking van die munisipaliteit oor dié klagte. Mills het gesê daar word beoog om die situasie na die Groen Skerpioene-ondersoekspan te verwys. Die rioolvloei langs die R101-pad oorkant die Bela-Bela Waterfront is nog ’n knelpunt. Die Bela-Bela-township ondervind ook tans riool probleme. Op die foto is die foutiewe pompstasie in Flamboyantstraat. Die munisipaliteit het teen druktyd geen terugvoer oor die dorp se rioolprobleme gegee nie.

 

Die Bela Mall-bestuur het die Bela-Bela-polisie op Mandeladag (18 Julie) bederf deur aan elke beampte en personeellid ’n geskenkbewys te gee waarmee hulle ’n heerlike Wimpy-koffie kon geniet om die koue te verdryf wanneer hulle op patrollie ry. Op die foto is kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, met een van die geskenkbewyse. Hy het gesê beamptes was baie dankbaar vir dié welwillendheidsgebaar.

 

Gladys van der Merwe, jarelange inwoner van Bela-Bela en inwoner van die Warmbad Rusoord Tehuis vir Bejaardes, het op Sondag 12 Julie haar 91ste verjaarsdag gevier. Volgens haar is sy dankbaar dat sy op haar oudag steeds goeie gesondheid en baie seën uit die Vader se hand ontvang.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button