GalleriesSchools galleries

Warries maak planne om onnieposte te red

Ouers, onderwysers en leerders is steeds in die duister oor wat die res van die akademiese jaar inhou.

Die koronapandemie het skole landwyd se geldkoffers ’n gevoelige slag toegedien. Laerskool Warmbad is een van die skole wat die finansiële wurggreep aan eie bas voel en daarom na alternatiewe bronne begin soek het om hul beursies aan te vul en beheerliggaamsposte te behou.

Daar was die afgelope paar maande verskeie pleidooie landwyd van onderwysers wat deur hul skole se beheerliggame aangestel is en daarom aan die kortste end trek wanneer besnoeiings gedoen moet word.

Die personeel van Laerskool Warmbad het ingespring en ’n fondsinsamelingsprojek geloods om dié poste te probeer red. Hulle het die gewilde bordspeletjie Monopoly se konsep gebruik waar mense ’n “afkoopboete” van R200 kan betaal om tronkstraf vry te spring.

Die Warrie-personeel het hul eie speletjie begin en lede van die publiek gevra om ’n R200-skenking in die skool se rekening te betaal wat as “borgtog” dien om ’n onderwyser uit die “tronk” te hou. Dié geld is onder meer gebruik om onderwysers se salarisse te betaal.

Die veldtog het talle Samaritane na vore laat tree wat boonop almal in aanmerking gekom het vir ’n gelukkige trekkingwegbreek na KwaZulu-Natal. Die sluitingsdatum vir die geleentheid was Vrydag 10 Julie en die wenners sal aangekondig word. Lesers is welkom om steeds R200-skenkings te maak.

Die skool beoog om deur die loop van die jaar nog drie fondsinsamelingsprojekte vir dié doel aan te bied.

Een daarvan is spesifiek op die sportgeesdriftiges gemik. Mense wat smag daarna om weer aan padwedlope deel te neem, kan op Saterdag 8 Augustus aan die skool se virtuele wedloop deelneem. Daar sal 5 km- en 10 km-wedlope wees.

Belangstellendes word aangeraai om die Strava-toep van Playstore op hul slimfone af te laai en só hul vordering, afstand en tyd op die dag te bepaal. Deelnemers mag egter nie in groepe deelneem nie. Inskrywings kan op die skool se webblad gedoen word.

Vir die kunsliefhebbers wat lanklaas die binnekant van ’n kunsgalery gesien het, is daar ook goeie vooruitsigte. Kunsliefhebbers kan vanaf Vrydag 14 Augustus vir vier opeenvolgende Vrydae unieke kunswerke op die skool se Facebook-blad besigtig en ’n aanbod maak. Die werke sal aan die hoogste bieër toegeken word.

Die personeellede is ook besig om die snare in te stel en stemme op te warm vir ’n virtuele konsert op Vrydag 23 Oktober. Die kykers sal verras wees met dié produksie wat hulle in die gemak van hul eie voorkamers kan geniet. Daar sal sang-, dans- en musiekitems in almal se smaak wees.

Vir meer inligting en om kaartjies te koop vir die konsert, kan lesers Laerskool Warmbad se webtuiste besoek by www.laerskoolwarmbad.co.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button