Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die bestuurder van ’n minibustaxi wat passasiers vervoer het, het op Sondag 5 Julie ongeveer 17:25 in die omgewing van die Codrington-afrit op die N1-snelweg beheer oor die voertuig verloor waarna dit omgeslaan het. Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, is die bestuurder, Xivambo Steven Ntsako (28), in die ongeluk oorlede. Die passasiers het slegs beserings opgedoen en is per ambulans na plaaslike hospitale vervoer. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, het Maponya gesê. Die oorsaak van die ongeluk is nog duister. Op die foto is die beskadigde minibus nadat dit ingesleep is.

 

Daar was konsternasie toe ’n kameelperdkoei op Maandag 29 Junie in ’n swembad by Zebula-lodge en natuurreservaat buite Bela-Bela beland het. Die personeel het gespook om die dier te red. Dr. Marius du Toit, veearts van Bela-Bela, is ontbied en hy het nog kundige hulp van Jan-Louis Jacobs, opleidingsbestuurder by Sondela-natuurreservaat, ingeroep. Jacobs vermoed die koei het gedurende die nag in die swembad beland en gelukkig op die veiligheidsnet beland waar sy verstrengel geraak het. Nadat die veearts haar verdoof het, het die personeel van Zebula haar met baie steune, kreune en bultende spiere bevry en loop sy weer ongedeerd in dié reservaat. Foto: Verskaf.

 

Anna Scheepers, oudpredikantsvrou van Thabazimbi en Dwaalboom, het op Donderdag 2 Julie haar 94ste verjaarsdag gevier. Weens die inperking was daar ongelukkig nie een van haar kinders of familie teenwoordig nie, maar elkeen in die Tambotie-versorgingseenheid waar sy woon, het ’n kolwyntjie ontvang om die dag saam met haar te vier.

 

’n Bekende en geliefde inwoner van Bela-Bela, Wiltas “Boskind” Vercuiel (32), is op Sondag 5 Julie dood nadat hy op die Alma-pad in ’n ongeluk betrokke was. Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het Vercuiel ongeveer 11:30 beheer oor sy Toyota-bakkie verloor waarna die voertuig teen ’n boom gebots het. Vercuiel is dood op die toneel aangetref. Hy was alleen in die voertuig. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Vercuiel was voorheen in die mynwese betrokke en het die afgelope paar jaar buite die dorp geboer. Hy word onthou as ’n ware vriend en sal gemis word. Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.

 

Rika van der Schyff en haar dogter, Mariëtte Burger, is al 22 jaar lank deel van die span wat op Donderdae en Vrydae Die Pos-koerant in Modimolle en Vaalwater aflewer. Die Pos word deur ’n ander span in Bela-Bela, Mookgophong, Pienaarsrivier, Koedoeskop en Thabazimbi afgelewer. Dankie aan dié twee staatmakers en dankie ook aan al die winkeleienaars wat hulle waardeer. Rika sê dit is vir haar die lekkerste gevoel wanneer winkeleienaars opgewonde oor Die Pos se voorblad is, maar dit breek ook haar hart as daar ’n hartseer storie op die voorblad is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button