Ooggetuies het op Maandag 7 Oktober beweer dat ’n man die parkie op die hoek van Ludorf- en Driverstraat in Bela-Bela aan die brand gesteek en toe verdwyn het. Die brand het tot op die sypaadjie versprei, maar gelukkig geen van die nabygeleë geboue bedreig nie. Die voorval is onder die aandag van die Bela-Bela-munisipaliteit gebring, maar teen druktyd was daar geen verdere terugvoer nie. Mense wat opsetlike brande stig, kan in terme van wetgewing vervolg word.
Die pragtige Sanrico Brummer was op Vrydag 4 Oktober na haar skool, Hoërskool Waterkloof, se matriekafskeid saam met André Jacobs. Sanrico, wat hier baie elegant lyk in ’n treffende aandrok in skakerings van pienk, was ’n leerder aan Bosveldspruitjies Kleuterskool en ook Laerskool en Hoërskool Warmbad. Sy is die dogter van die bekende oudmusiek-onderwysers by die Hoërskool Warmbad-musieksentrum, Johan en Susan Brummer. Foto: Willem Pietersen
Gabriël Stoltz (91) van Bela-Bela is op Vrydag 4 Oktober oorlede. Stoltz, bekend as Briel, het saam met sy vrou, Mercia, in 1995 na Bela-Bela verhuis en in Caritas Village naby die Phodi-kliniek gewoon. Stoltz het tot in 1990 as prokureur gepraktiseer. Hy het as belastingadvokaat vir die Suid-Afrikaanse inkomstediens afgetree. Ná sy aftrede het hy met simmentalerbeeste geboer en pragtige houtwerk gedoen. Sy ander tydverdryf en groot liefde was musiek en sang. Sy begrafnis vind op Saterdag 12 Oktober om 11:00 vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente plaas. Hy laat sy vrou, twee susters, drie dogters en twee seuns agter. Hy het ook vier kleinseuns, vyf kleindogters en twee agterkleindogters.