Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in en om die Waterberg?

Sowat 180 mense het die vertoning van die sanger Leon Ferreira op Sondagaand 9 Junie by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle ten bate van die tweejarige Claudia du Preez bygewoon. Sy is met diskinetiese serebrale gestremdheid gediagnoseer en ’n hiperbariese tenk word benodig om haar lewensgehalte te verbeter. Volgens haar ouers is daar dié aand R7 830 ingesamel nadat al die uitgawes afgetrek is. “Dit maak ‘n groot verskil en ons skuld nog net R30 000 op die tenk,” het haar ma, Jolene, gesê. Die koste van die tenk beloop R140 000. Claudia se vordering kan ook op Facebook gevolg word op “Claudia se pad na genesing”. Op die foto is Jolene, Claudia en Leon Ferreira na afloop van die vertoning.

 

Die oefengroep van die Renaissance-aftreeoord in Bela-Bela het op Woensdag 5 Junie hul tweede bestaansjaar met ’n glas sjerrie geklink. Die groep is gestig om inwoners fiks te hou deur middel van gereelde liggaamlike oefensessies wat spesiaal vir bejaardes ontwikkel is. Die inwoners samel donasies tydens hul oefensessies in vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Die groep oefen onder leiding van Rina Steynberg. Op die foto is die groep tydens hul verjaarsdagviering met ’n glasie sjerrie in die hand.

 

Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Sonskyntak in Bela-Bela het op Maandag 10 Junie die Aganana-ondersteuningsentrum by die Bela-Bela-polisiestasie besoek waar hulle sanitêre produkte aan die sentrum geskenk het. Die sentrum bied ’n veilige hawe vir vroue en kinders wat deur huishoudelike geweld en molestering geraak word. Op die foto is konst. Ruth Sithole, Irma Day (VLU), Cecilia Shiri (sentrumkoördineerder) en Lorette Rainier (VLU) tydens die oorhandiging. Mense wat betrokke wil raak, kan vir Day bel by tel. 072 352 1035, Rainier by tel. 073 313 4607 of vir Maria Oberholzer by tel. 082 558 7184.

 

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) het weer op Vrydag 31 Mei ’n minimarkdag by die SAVF-saal in Bela-Bela gehou. Besoekers kon tydens die mark heerlike versnaperinge en snuisterye koop. Die geld wat tydens die mark ingesamel is, is ten bate van Huis Talje, ’n tehuis vir gestremdes, en Hoërskool Warmbad se voedingskema vir behoeftige leerders. Op die foto is Ronan van Noordwyk, kunstenaar en juwelier, by van sy kunswerke wat hy uitgestal het.

 

Kykers van die gewilde M-Net program, The Voice SA, het op Son­dag 2 Junie be­hoor­lik naels gekou. Hierdie was die laaste ronde waar beoorde­laars hul keuses kon uit­oefen. In die volgende rondes gaan dit suiwer oor die kykers se steun en hulle bepaal wie deur­dring na ’n volgende ronde. Die afgelope week is Soné Joubert, oud­leerder van Laer­skool- en Hoërskool Warm­bad, deur die kykers se steun gered en sy sal in die vol­gende verto­ning weer die geleent­heid hê om met haar sang­talent te spog. Ky­kers wat wil hê sy moet in die program aanbly, kan die nom­mer 17 na tel. 33692 SMS of op The Voice SA se web­tuis­te vir haar gaan stem. The Voice word el­ke Son­dag om 17:30 op DSTV-ka­naal 101 uit­ge­saai. Fo­to: Face­book

 

An­dré Cor­dier, honde­teler van Be­la-Be­la, en sy bullmastiffs, Honey Dynasty en Cosmo Maxwell, het puik presteer tydens die Kennel Union of South Africa (Kusa) se nasi­ona­le én in­ter­na­sio­na­le kam­pi­oen­skap ­in Jo­han­nes­burg. Sy Ikangwa Bullmastiffs is onder meer bekroon as die bes­te in die land. Cor­dier en sy hon­de het ook ’n uit­no­di­ging ont­vang om in 2020 aan die jaar­lik­se Crufts-wê­reldkam­pioen­skap­ in Lon­den deel te neem. Op die fo­to staan Cor­dier saam met Cos­mo ty­dens die on­lang­se nasionale kam­pi­oen­skap­.

 

Pappas is groot teddiebere wat klein hartjies het as dit by hul kinders kom. Hier wys Gavin Scheepers, boer van Vaalwater, dat sy knieë lam word as hy sy laatlam en enigste dogtertjie, Lumé, (drie maande) vashou. Vadersdag is vir hom spesiaal, want sy gesin is by hom.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button