Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in en om die Waterberg?

Die inwoners van Kokanje-aftreeoord buite Modimolle het onlangs heerlik karnaval gehou. Die bekende RSG-omroeper Derrich Gardner het op Saterdag 13 April sy program Brekfis met Derrich vanaf die aftreeoord uitgesaai. Hy het onderhoude met verskeie van die inwoners gevoer. Interessante stalletjies wat kreun onder smullekker eetgoed en ’n Spaanse dansgroep het bygedra tot die feestelike atmosfeer. Op die foto is Anina Pretorius, bemarker van Kokanje, Derrich Gardner, en Amanda Olivier, voorheen ’n omroeper op RSG, maar nou ’n inwoner van die oord, tydens die regstreekse uitsending. Foto: Verskaf

 

Verskeie inwoners van Vaalwater beoog om wit klere op stemdag (Woensdag 8 Mei) te dra om te wys dat hulle hoop op ’n Goddelike ingryping vir Suid-Afrika. Dié groep het aan ’n 2 km lange staptog in die township van Melkrivier, buite Vaalwater, deelgeneem om die Kingdom Nation Walk-inisiatief te ondersteun. Saam met inwoners is Shane Dowinton (perdeboer en gemeentelid van die Church of St John the Baptist by Vier-en-twintig Riviere buite Vaalwater), Candice Farrant (inwoner), dr. Peter Farrant (pediater en boer van Vaalwater), Nick Farrant (plaaslike boer) en KB Shika (gemeentelid van Divine Ministries in Vaalwater). Kapt. William Mpete van die Vaalwater-polisiestasie staan met sy rug na die kamera.

 

Die DA het op Dinsdag 30 April van hul groot kanonne na Bela-Bela gestuur om met inwoners te gesels. James Selfe, LP en ondervoorsitter van die party se federale raad, het aan inwoners tydens ’n ontbyt by Forever Resorts gesê die land kan ’n ander vorm van regering ná die verkiesing verwag. Die DA verwag dat die ANC heelwat binnegevegte sal beleef, asook ’n faksie wat sal poog om pres. Cyril Ramaphosa uit die kussings te lig. Volgens Selfe het “oppervlakkige openbare deelname op politieke vlak” veroorsaak dat daar miljoene mense is wat nie vanjaar wil stem nie. “Mense moet weet dat ’n kieser vir ’n party en nie vir ’n politieke persoon stem nie.” Op die foto is Selfe, Glynnis Breytenbach, skaduminister van justisie en korrektiewe dienste, en Jacques Smalle, DA premierskandidaat en provinsiale leier, tydens die besoek aan Bela-Bela.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button