Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in en om die Waterberg?

Leerders en personeel van Laerskool Warmbad het op Vrydag 12 April blou aangetrek ter nagedagtenis van een van hul leerders, Roger Trosello (8), wat die vorige week dood is in ’n motorongeluk naby die skool se sportterrein. Roger het in ’n voertuig in Gilfillanstraat vasgehardloop en is later by die Phodi-kliniek oorlede. Hennie Coetzee, skoolhoof, het Roger as ’n topleerder en goeie rugbyspeler beskryf. Hy het gesê die skool is diep getref deur die tragedie. Op die foto is van die leerders en personeel in blou klere. Foto: Herman Steyn

 

’n Familie van Bela-Bela het ’n besondere dag ervaar toe Beatrice Joan Ritchie se 90ste verjaardag op Donderdag 21 Maart buite die dorp gevier is met vyf geslagte teenwoordig. Op die foto is Ritchie (voor) saam met Marizel Labuschagne (9) van Centurion. Agter hulle is Beatrice Joan Lombard (71) van Bela-Bela, Beatrice Joan Cloete (49) van Bela-Bela en Jeanne Labuschagne (29) van Centurion.

 

Daar word kliphard agter die skerms gewerk om alles reg te kry vir die Dopperbasaar wat op Saterdag 27 April in Modimolle gehou word. Dit begin reeds om 07:00 en soos ander jare is daar vleis teen sakpaspryse te koop. Die lekkerbekke kan uitsien na pap en kaiings, pannekoek, kerrie-en-rys, sosaties, vetkoek en maalvleis en dan natuurlik die koektafel. Die basaar vind plaas op die Gereformeerde Kerk se terrein in Modimolle.

 

Waar daar water is, is daar lewe, lui die spreekwoord. Dié ou watertenk staan in Vaalwater op die hoek van Melkrivierweg en Waterbergstraat. Die tenk is in die vyftigerjare vir Vaalwater-township se Uitbreiding 4 gebou. Die reservoir het in onbruik geraak en ’n boompie het intussen sy staan daar gekry.

 

Lede van die Kromdraai-huiseienaarsvereniging het op Vrydag 12 April buite Bela-Bela ingespring en self hul servituutpaaie na die verskillende wonings en lodges in die omgewing herstel. Johan Ingels van die vereniging het by navraag gesê die pad is die Bela-Bela-munisipaliteit se verantwoordelikheid, maar dit word al vir maande nie geskraap nie. Hy het gesê die pad word daagliks deur leerders, polisievoertuie, afleweringsvoertuie, toeriste en inwoners gebruik. Op die foto links is lede en werkers besig om op ’n gedeelte van die paaie te werk. Op die foto regs is die hoofgrondpad.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button