GalleriesSchools galleries

Boekevat en kekkelbekke

Skole spog met hul kulturele uitblinkers.

Laerskool Vaalwater se Valentynsmark op Vrydag 15 Februarie het vermaak uit die boonste rakke gebied. Die seuns en meisies het aan die “ Walk of Fame” deelgeneem en tot groot vermaak van die toeskouers is Jerry Bezuidenhout (eerste), Glen Dorfling (derde) en Owen Buermann (tweede) as die wenners aangewys.

 

Die gr. 6-meisies het skoonskip gemaak tydens die Walk of Fame wat by Laerskool Vaalwater se Valentynsmark gehou is. Die wenners is Kyarah Schabort (eerste), Kiran Mnisi (derde) en Deiondré Bodenstein (tweede). Die dag is met ’n heerlike skoolpiekniek afgesluit.

 

’n Mens sal vêr moet loop om ’n beter tienjarige verkoopsman te kry. Glen Dorfling het tydens Laerskool Vaalwater se Valentynsmark kaartjies verkoop. Sy aanslag en tydsberekening was uitstekend. Die Valies sien Glen soms uithelp by Brent Oil-motorhawe se Een-Stop-winkel in Vaalwater waar hy ook al geleer het om kredietkaarte te hanteer. Sy ma, Yolanda Dorfling, help met die bestuur van dié motorhawe.

 

’n Piekniek is nooit te versmaai nie, veral as dit in skooltyd gebeur. Ná die lieflike reën wat in Vaalwater geval het, het die Valies op Vrydag 15 Februarie ’n stoflose piek-niekdag gehou. Die skool se reënmeter het op Woensdag 13 Februarie 30 mm water in gehad en teen skemer dieselfde aand is ’n verdere 10 mm gemeet. Hier sit van die leerders vol glimlagte oor een verlore akademiese dag.

 

Jinnah Park Primary School in Bela-Bela het op Vrydag 15 Februarie groot makietie gehou om Valentynsdag te vier. Hier is Gerhard Odendaal, onderwyser, besig om hoenderpootjies te braai. In die volksmond staan dit ook as “runaways” bekend. Die gereg is baie gewild onder die leerders en daar is behoorlik gesmul. Foto: Herman Steyn

 

Laerskool Vaalwater het behoorlik Valentynsfees gehou. Hulle het op Donderdag 14 Februarie vir die senior leerders ’n heerlike Valentynsdans aangebied en die volgende dag ’n Valentynsmark en -piekniek vir die leerders van die skool gehou. Hier is gr. 1-onderwysers Chanel Jacobs en Rebecca Mpepele besig om heerlike drinkgoed aan Willem Nel en Abner Childhedge te verkoop.

 

Die Valies het Valentynsdag op Donderdag 14 Februarie met ’n heerlike opskop by die skool gevier. Marnes Scheepers en Dermioné Bodenstein, albei in gr. 4, het hierdie geleentheid terdeë saam met die senior leerders van Laerskool Vaalwater geniet.

 

Ai, die liefde is die beste medisyne. Linieke Diederiks, ’n 4-jarige leerder van Bosveldspruitjies Kleuterskool in Bela-Bela, was op Valentynsdag ’n bietjie olik met pampoentjies. Een van haar klasmaats, Ronin van der Merwe, het haar egter die Donderdagoggend tuis besoek en vir haar ’n geskenk geneem om haar beterskap toe te wens.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button