GalleriesSports galleries

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Hierdie leerders van die Warmbad-gimnastiek- en tuimelklub het op Saterdag 18 Augustus in Thabazimbi aan die Waterberg-distrikkampioenskap deelgeneem en vir die Limpopo-kampioenskap gekwalifiseer. Dit vind begin September in Brits plaas. Op die foto is Amoné van Niekerk (vier goud), Desiré Jacobs (drie goud en ’n silwer) en Albert Groothof (vyf eerste plekke en ’n silwer). Agter staan Janke Nortjé (algeheel vyfde). Jessica Carr (vier silwer) was afwesig met die neem van die foto. Die Warmbadklub bied op Saterdag 1 September die Limpopo-tuimelkampioenskap buite Bela-Bela aan. Die klubs van Modimolle, Bela-Bela en Polokwane sal deelneem en mense word genooi om na puik tuimel te gaan kyk.

 

Laerskool Warmbad se o.13A-krieketspan het op Donderdag 23 Augustus teen Laerskool Bosveld van Lephalale gespeel. Die Warries het Bosveld vir slegs 50 lopies uitgeboul en die telling daarna verbygesteek met ’n verlies van twee paaltjies. Lourens Grobler van die Warries het met sy uitstekende boulwerk twee paaltjies vir slegs sewe lopies platgetrek. Foto: Herman Steyn

 

Dié jong krieketspelers van Laerskool Nylstroom het op Saterdag 25 Augustus aan die streekskrieketproewe, wat by Laerskool Warmbad gehou is, deelgeneem. Hulle het deurgedring na die volgende ronde en neem op Saterdag 1 September aan die Limpopo-proewe in Polokwane deel. Voor is Lukas van der Merwe (o.12), Wihan Bezuidenhout (o.11), Jannes van Zyl (o.11) en Tiaan Steffen (o.11). Agter is Chepape Monyelegao (o.13), Jeandré STrydom (o.13) en Daniël Briel (o.13).

 

Laerskool Vaalwater se hokkiespelers is in hul noppies met hul nuwe geborgde hokkieklere waarop Ons Skryf Afrikaans staan. Op die foto is Grace Moeng, Marzel Derckson, Danike le Roux, Kyarah Schabort en Caitlynn Celliers. In die middel is Lize-Lee Jacobs, Lené Smit, Lebo Monyela, Joyce Lethabo en Leani du Toit. Agter is Makayla Keating, Kyra le Roux, Charné Verster en Marisha Benadé.

 

Marnes Wesselman, ’n kranige rugbyspeler van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong is ná afloop van die Bokkieweek wat in die Julie-vakansie in Mookgophong gehou is, opgeneem in o.14 nasionale Bokkieweek-span.

 

Janco van der Walt, Macayla Treurnicht, Abbi van der Walt en Chante Treurnicht, leerders aan Hoërskool Hans Strijdom, is ná afloop van verskeie landloopbyeenkomste vir die Limpopo-landloopspan gekies.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button