GalleriesSports galleries

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Die Warrie Fireflies van Hoërskool Warmbad wat lig in die gemeenskap wil uitdra het net ná die Julie-vakansie skryfbehoeftepakkies aan die gr. 1-leerders van Jinnah Park Primary oorhandig. Foto: Herman Steyn
Marizé van Rooyen, ’n tuisonderrigleerder van Modimolle, het die naweek van 28-29 Julie vir die Gauteng-Noord o.12 A-span aan ’n interprovinsiale tennistoernooi in Pretoria deelgeneem. Sy was eerste gekeur vir die meisiespan en het al ses haar wedstryde gewen. Die ander provinsiale spanne was van Gauteng-Oos, Gauteng-Wes en Noordwes. Gauteng-Noord het die interprovinsiale toernooi gewen deur 32 van hulle 36 wedstryde te wen.
Hoërskool Hans Strijdom se landloopspan het op Dinsdag 31 Julie tydens die interhoër by Hoërskool Ellisras tweede geëindig. Die junior- en senior meisiespanne van die Hansies was eerste terwyl die junior seuns ’n derde plek en die senior seuns ’n tweede plek behaal het.
Waterberg Academy van Vaalwater het as hul deel vir Madibadag, niebederfbare voedsel aan die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle geskenk. Mark Godfrey, skoolhoof, het die skenking op Woensdag 18 Julie aan Gerda van der Merwe, hoof van die kindershuis, oorhandig.
Altesame 80 leerders, wat deel is van Laerskool Warmbad se junior revue, is gekies om op Donderdag 6 September aan die Tshwane Youth Arts Festival in die Staatsteater in Pretoria deel te neem. Die skool is baie trots daarop dat die leerders na hierdie prestige kunstefees genooi is. Op die foto is van die gr. 3-leerders wat hoofkarakterrolle in die revue vertolk.
Die Bela-Bela-polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum sektor 1 (GPF), asook die polisie se honde-eenheid het Laerskool Warmbad, Eden Privaatskool en Orlando Primary School op Donderdag 26 Julie besoek as deel van ’n bewusmakingsveldtog. Die leerders is ingelig oor dwelms, boelies in skole, seksuele aanranding en diefstal. Hier is die polisie en GPF-lede saam met die personeel by Laerskool Warmbad.
Scott Drummond (11) het die afgelope vakansie saam met sy tweelingsussie, Katryn, in Vaalwater gekuier. Hulle het vir hul ouma Hannetjie Grové gaan kuier nadat hulle verlede jaar na Pretoria verhuis het. Die groot opknappings om een van die ondernemings was vir Scott ’n goudmyn van geleenthede. Hier help hy vir Lourens Nel om ’n speelparkie te bou.
Sidney Bann (regs) van Bela-Bela het op Saterdag 21 Julie die opewedvlug vanaf Theunissen (416 km) gewen met ’n duif wat Frank Ferreira (links) geteel het. Bann neem saam met sy vrou, Leonie, onder die naam Mr & Mrs Bann aan wedvlugduifrenne deel. Hy is ’n beginner by die Sonskyn-duiweklub. Hierdie was die eerste wedvlug van die seisoen wat deur ’n Sonskyn-klublid in die Combine-wedvlug gewen is. Die duif het die klub-, streek-, unie- en Combine-vlug teen 105 lede en 1 006 ander duiwe gewen.
Die Kokanje-rolbalklub in Modimolle het ’n geslaagde borgdag op Woensdag 25 Julie aangebied met 24 spelers wat deelgeneem het. Jean du Plessis, die president, is hier by die wenners Maria Botha, Ansie de Villiers en Armondo Lopes.
Ernest du Plessis was die Nylstroom-rolbalklub se wenner in die mans ope enkelspel tydens hul 2017/2018-klubkompetisies. By hom is Rodney Robinson, klubpresident.
Louise Potgieter het die trofee ontvang vir die vrou wat die beste vordering getoon het tydens die Nylstroom-rolbalklub se 2017/2018-klubkompetisies. By haar is Rodney Robinson, klubpresident.
Willem van Hulst is tydens die Nylstroom-rolbalklub se 2017/2018-klubkompetisies aangewys as die man wat die beste vordering getoon het. Rodney Robinson, klubpresident, oorhandig sy trofee.
Hendrik Maritz (links) het die 101-enkelspelafdeling gewen tydens die Nylstroom-rolbalklub se 2017/2018-klubkompetisies. Rodney Robinson, klubpresident, oorhandig sy trofee aan hom.
Addie Schoeman, die wenner in die vroue enkelspelvoorgee tydens die Nylstroom-rolbalklub se 2017/2018-klubkompetisies, ontvang haar trofee by Rodney Robinson, klubpresident.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button