GalleriesSports galleries

Oor die wenstreep…

Die Waterberg-sportgemeenskap in foto's.

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg-gebied.

Hoërskool Nylstroom se tennisspanne het op Vrydag 1 Junie tuis teen Hoërskool Ben Viljoen gespeel. Die Nylies se eerste en tweede seunspanne het in die stof gebyt terwyl die eerste, tweede en derde meisiespanne geseëvier het. Op die foto is Hanno van Biljon, eerste span- tennisspeler van die Nylies, tydens sy wedstryd teen Hoërskool Ben Viljoen. Foto: Herman Steyn
Lyandi van der Merwe, (11), ’n perderuiter van Waterberg Academy in Vaalwater, het op 12 en 13 Mei uitstekend gevaar tydens SANESA se derde kwalifiserende ronde by die Blouberg-ryskoolskou in Vivo. Lyandi het ses eerste plekke, ’n tweede, derde en vierde plek behaal. Saam met haar op die foto is haar perd Carel Hancke Limpopo (Lippie). Haar ander perd Zigzag het ook bygedra tot haar sukses.
Sandra Erasmus, ’n oud-Warrie, het op 25-26 Mei aan die JKA karate kampioenskap in Johannesburg deelgeneem. Sy het in die senior elite vroue-afdeling deelgeneem. Altesame 24 vroue het in die kata-afdeling deelgeneem en sy het onder die top agt geëindig. Sy het vierde in die kumite-afdeling, waarin 18 vroue deelge-neem het, geëindig. Erasmus is voorts gekies om Suid-Afrika op Sater-dag 1 September in albei afdelings tydens die gesogte JKA All Africa Championship te verteen-woordig. Sy word deur Eugene Oosthuizen van die Solis Ortus-klub in Pretoria afgerig. By haar op die foto is Sandy Verreyne, ’n klubmaat van haar, en Oosthuizen.
Die o.9-netbalspan van die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mook-gophong is as ligawenners aangewys tydens die afgelope Waterberg sewes-rugby- en netballiga. Die liga het op Donderdag 31 Mei geëindig. Laerskool Bysonderheid in Roedtan, Waterberg Academy in Vaalwater, Akademie Reformia in Polokwane en Euphorbia het aan dié liga deelgeneem.
Die o.12-netbalspan van Euphorbia Chris-telike Onafhanklike Skool in Mook-gophong is as ligawenners aangewys tydens die afgelope Waterberg sewes-rugby- en netballiga wat op Donderdag 31 Mei geëindig het. Hulle het stof in die spanne van Laerskool Bysonderheid in Roedtan, Waterberg Academy in Vaalwater, Akademie Reformia in Polokwane se oë geskop.
Hierdie netbalspelers van die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong is die Waterberg-sewesnetballiga se o.13-wenners nadat hulle met spanne van Laerskool Bysonderheid in Roedtan, Waterberg Academy in Vaalwater, Akademie Reformia in Polokwane afgereken het.
Die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong se o.11-netbalspan het uitstekende netbal tydens die Waterberg-sewesliga gespeel en is as ligawenners aangewys. Die liga, waarin Laerskool Bysonderheid in Roedtan, Waterberg Academy in Vaalwater, Akademie Reformia in Polokwane en die Forbies meegeding het, het op Donderdag 31 Mei geëindig.
Hierdie o.10-netbalspelers van Waterberg Academy in Vaalwater is as ligawenners van die afgelope Waterberg-sewesliga aangewys. Laerskool Bysonderheid in Roedtan, Akademie Reformia in Polokwane en die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool van Mookgophong het aan dié liga deelgeneem.
Die Ecarté-gimnastiekklub se vlak 2 en 3 artistiese meisiesgimnaste het die kollig gesteel tydens die Waterberg-distrikskompetisie op Saterdag 19 Mei in Thabazimbi. Nie net het hulle die medaljes laat inrol nie, maar hulle het ook almal die Waterbergspan gehaal wat op 25 en 26 Mei aan die Limpopo-kampioenskap deelgeneem het. Voor sit Liandi du Plessis. In die middel sit Kaylin Groenewald (tweede), Anri Loots (eerste), Kiandra Doubell (derde), Zúret Gilliland (eerste) en Wuelamé Cilliers (tweede). Agter staan Emma Rossouw, Leoné Lottering (tweede), Alissa de Villiers (tweede), Lindi Loots (eerste), Kayleigh Weir (derde) en Christine de Jager. Zúret is aangewys as die beste vlak 3-gimnas vir die dag.
Dié gimnaste van die Warmbad tuimel- en gimnastiekklub het op Saterdag 2 Junie aan die South African aerialnastix-tuimelkompetisie in Benoni deelgeneem. Voor is Amoné van Niekerk wat ’n brons vir tuimel ontvang het. In die middel is Simone Maartens (goud vir tuimel) en regs Mia Strydom (brons vir tuimel). Agter is Desiré Jacobs (goud vir bank en minitrampolien, asook ’n silwer vir tuimel). Albert Groothof (goud vir minitrampolien en tuimel) was afwesig met die neem van die foto.
Die lede van die SAJKA Naboomspruit-klub, wat deel is van die Limpopo provinsiale span, het op Vrydag 25 Mei en Saterdag 26 Mei aan die SAJKA-kampioenskap in Johannesburg deelgeneem. Voor is Marco Booyse en in die middel is Ryan Truter, James Briel, Lani Briel en Dandré Haggard. Agter is Bertus van Wyk, Michelle Swanevelder, sensei Laurette Reynders (afrigter) en Ané Niemandt.
Karatekas van die Waterberg Karate Academy het Limpopo op Saterdag 5 Mei in Pretoria tydens die JSKA Suid-Afrikaanse nasionale kompetisie verteenwoordig. Op die foto is die klub se juniorwenners. Voor is Juan Muller (twee silwer medaljes) en Ethan Gouws (twee goue medaljes). In die middel is Lizerie Jooste (twee goue medaljes), Ryno Verwey (deelname- ertifikaat), Shaun-Rico Farinha (twee goue medaljes) en Vino le Roux (twee brons medaljes). Agter is Adriaan Dry (brons en goue medaljes), Janco Basson (twee silwer medaljes), Tiaan Jooste (brons en ’n silwer medalje) en Wanro Basson (twee brons medaljes).
Die senior karatekas van die Waterberg Karate Academy het hul klub se naam tydens die JSKA Suid-Afrikaanse nasionale kompetisie in Mei in Pretoria hoog gehou. Die karatekas het goed in kata en kumite presteer. Voor is Llewellyn Nel (twee goue medaljes). In die middel is Michael Carr (twee goue medaljes), Erika Kotzé (twee silwer medaljes), Wickus Coetzee (deelname sertifikaat) en Charneé von Stade (silwer medalje). Agter staan Paul Kotzé (twee silwer medaljes), Sensei Nico von Stade (silwer en brons medalje) en Eddie Kotzé (brons en goue medalje). Die klub het altesame 31 medaljes verower.
Hierdie hokkiespelers van Hoërskool Hans Strijdom gaan die Verre-Noord-hokkiespanne tydens die Bokkieweek verteenwoordig. Die Bokkieweek vind van 2-6 Julie op die Hansies se velde plaas. Voor is Daniella Rentroia en Abbi van der Walt. Agter is Yvette Swan, Adri Louw, Marine Swanepoel, Cecilia Pauer, Nerine Marsi, Micke Hofmeyr en Zodi Coetzee.
Jan-Hendrik Ebersohn, Peter Tjauke en Ruan Nel van Hoërskool Hans Strijdom is gekies vir die o.16-Noord-Vaalspan. Hulle gaan tydens die Junie-vakansie aan ’n toernooi in Springs deelneem.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button