CrimeNews

Prettige parade ná aktivisme-veldtog

Die mans het rokke gedra om op ’n simboliese wyse mense aan te moedig om vir slagoffers van huishoudelike geweld op te staan. Die boodskap dat mans ook slagoffers van huishoudelike geweld kan wees, moet ook beklemtoon word.

Omstanders se monde het oopgehang toe ’n prettige parade op Woensdag 28 November in Chris Haniweg in Bela-Bela gehou is.

Van die deftige geklede “dames” in die parade was bekende polisiebeamptes van die dorp.

Die geleentheid is gehou ter ondersteuning van die nasionale 16 dae van aktivisme-veldtog wat op Saterdag 24 November afgeskop het. Die doel van die veldtog is om die publiek bewus te maak van geweld teen vroue en kinders.

 

Die Bela-Bela-polisiespan was verlede week as die top-span aangewys tydens ’n byeenkoms waar speletjies gespeel is en ’n potjiekoskompetisie by Laerskool Warmbad gehou is. Die byeenkoms is gehou na afloop van ’n 16 dae van aktivisme-optog deur die dorp. Op die foto is van die polisielede by die byeenkoms.

 

Lede van die Bela-Bela-polisie het al te fraai gelyk tydens hul 16 dae van akti-visme-veldtog. Hulle tema was The Wizard of Oz. Op die foto is kol. Lindie Marx, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, Jannet van Rooyen, senior administratiewe klerk by die stasie en kapt. Jacques Vierbergen.

 

Polisielede van Thabazimbi, Northam, Dwaalboom, Pienaarsrivier en Bela-Bela, asook ATKV Klein-Kariba, lede van Edu-discipline, APA-ambulansdienste en lede van die Kariba-buurtwag het aan die pretdag deelgeneem.

Die meeste van die deelnemers was in pers geklee. Die nasionale organiseerders het pers as die amptelike kleur van die veldtog verklaar, het sers. Hester van Zyl, woordvoerder van die Bela-Bela-polisie, gesê.

Die mans het rokke gedra om op ’n simboliese wyse mense aan te moedig om vir slagoffers van huishoudelike geweld op te staan. Die boodskap dat mans ook slagoffers van huishoudelike geweld kan wees, moet ook beklemtoon word, het sy gesê.

Die Bela-Bela-polisielede het die Wizard of Oz-tema uitgebeeld en baie aandag getrek met hul kleurryke-kostuums. “Dit hang baie keer van die slagoffer af — net soos in die storie van die Wizard of Oz — of hulle uit hul omstandighede kom,” het Van Zyl gesê.

Die spanlede van die Klein-Kariba-buurtwag het verskillende emosies uitgebeeld wat in spelterapie met kinders gebruik word nadat hulle trauma beleef het, het Van Zyl gesê.

Inwoners in die township en in die Masakhane-nedersetting in Radium het tuisbesoeke van rolspelers ontvang. Mense is ook ingelig oor die maniere hoe om huishoudelike geweld aan te meld.

Die deelnemers het ná die dag se pret by Laerskool Warmbad se sportvelde bymekaar gekom waar speletjies gespeel en ’n potjiekoskompetisie gehou is.
Die Bela-Bela-polisielede is aangewys as die beste span van die dag.

Related Articles

Back to top button