Local newsNews

Woordslyper wen gesogte digprys

“My akkers het vanjaar mooi geval,” sê sy en vertel dat sy ook vanjaar twee eerste plekke in die Pendoring- en Beginners en Begaafdes-kompetisies ontvang het.

Dit is in haar winkel, omring deur die kreatiewe werke van ander se hande, dat Anzé Bezuidenhout haar beste woorde vind.

Dié digter van Modimolle het die CJ Langenhovenprys tydens die onlangse digkompetisie van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) ontvang. Dié kompetisie was ’n 15 weke-lange uitdaging om volgens ’n weeklikse tema te skryf waarin verskeie dig- en stylvorms toegepas moes word. “Ek voel skoon leeg geskryf!” lag Bezuidenhout hardop tussen vlakvarktandsleutelhouers, koue koeldranke en kunswerke teen die mure van haar padstalletjie IetsiVanAls. Die stilte ná die woordstorm.

As deel van haar prys het sy die publikasie van ’n digbundel deur Groep 7 gewen. Die tema van die kompetisie was die “Erwe van ons Vadere”.

Voor haar staan ’n kleurvolle stapel boeke waarop sy baie trots is. Sy het reeds verskeie digbundels uitgegee, waarvan haar nuutste pennevrug Inkdorings is.

“My akkers het vanjaar mooi geval,” sê sy en vertel dat sy ook vanjaar twee eerste plekke in die Pendoring- en Beginners en Begaafdes-kompetisies ontvang het.

Haar werk is reeds in verlede jaar se GHA-bloemlesing Stemme van die Suiderland 12 gepubliseer en van haar gedigte sal ook in hul nuwe bloemlesing, Stemme van die Suiderland 13, opgeneem word. Haar werk is in drie van Cordis Trust se digbundels opgeneem en sy is deur Afrikaans.com gekies as ambassadeur.

“Ek skryf al van jongs af, maar het dit stilgehou. Ek sou hier by die padstal skryf en die papier dan so eenkant wegsteek. Ek het dit in 2013 vir die eerste keer gewaag om my werk vir ander te wys.”

Bezuidenhout sê inspirasie kom sommer so ongevraag. “Ek sal in die kerk sit en ’n frase hoor. Twee woorde verander dan in ’n hele gedig. Ek dink in prentjies en is geneig om te probeer kyk wat onder die oppervlak van dinge lê.”

Related Articles

Back to top button