MunicipalNews

Water op dié dae verskaf

Modimolle gaan reeds meer as twee maande gebuk onder waterskaarstes met van die woonbuurte wat weke laas lopende water gehad het.

Meer as nege miljoen liter water te min elke dag.

Dit is die kopseer waarmee die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit worstel.

Modimolle gaan reeds meer as twee maande gebuk onder waterskaarstes met van die woonbuurte wat weke laas lopende water gehad het. Die Pos het vroeër berig oor inwoners wat toue in die begrafplaas staan om water by openbare krane te tap en mense wat water van hul boorgate beskikbaar stel aan ander inwoners.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, is die waterbehoefte van Modimolle sowat 13 megaliter (oftewel 13 miljoen liter) water per dag. Die dorp ontvang tans slegs tussen drie en vier megaliter vanaf die waterverskaffer Magalies Water en die boorgate dra sowat een megaliter by. Die Donkerpoortdam is so te sê leeg en lewer geen bydrae nie.

Om dié tekorte die hoof te bied, gaan die munisipaliteit ’n rantsoeneringskedule instel om al die inwoners van water te voorsien, het Van Staden gesê. Volgens die skedule sal Bosveldsig en die boonste dele van die dorp vanaf Maandag 3 Desember op Maandae, Woensdae, Vrydae en Sondae water ontvang.

Phagameng sal op Woensdae en Saterdae water ontvang. Modimolle se dorpsdeel en Uitbreidings 7 en 10 sal op Dinsdae, Donderdae en Saterdae water ontvang en Uitbreiding 8 op Maandae, Donderdae en Sondae. Uitbreiding 5 en 6 (Mandela Village) en Uitbreiding 9 en 11 sal op Dinsdae en Vrydae water ontvang. Uitbreiding 12 en 13 sal deur die munisipaliteit se watertrokke bedien word.

Daar mag egter nog klein veranderinge aan die skedule gemaak word.

Waarskuwings aan inwoners en sakelui om water te bespaar blyk geen verandering mee te bring nie.

  • Lesers kan Die Pos se Facebook-blad dophou vir enige veranderings in die munisipaliteit se voorgestelde skedule.

Related Articles

Back to top button