Local sportSport

Groot gestoei toe bul van ’n baber byt

“Die vis het haar stok skoon van sy staander afgeruk. Ek het die stok net so ’n rukkie vasgehou toe besef ek dis nie die geval nie. Hier is iets groots aan die lyn.”

Die lyn was te dun, die weer was te koud.

Die 20-jarige Cornelia Janse van Rensburg se geduld het egter die deurslag gegee, toe sy ná ’n gestoei van meer as ’n halfuur ’n allemintige baber van 8,9 kg uitgetrek het tydens die bekende Vaaldam Bonanza.

Janse van Rensburg, wat by ’n meubelhandelaar in Modimolle werk, vang gereeld vis saam met haar pa, Corrie, ’n ervare hengelaar. Sy het tydens die Vaaldam-kompetisie wat van 23-25 November gehou is, stof in sy oë geskop. Die bielie van ’n baber het haar ’n tweede plek in die vroue-afdeling besorg. Sy het ’n nuwe visstok en katrol, ’n groot gasbraaier en ’n R1 000-geskenkbewys ontvang. Die geraamde waarde van die pryse is R10 000.

“Die visse wou die naweek net nie byt nie. As hulle byt, is dit sulke kleintjies wat die hengelaars uittrek. Die grootste karp van die dag was maar 6,4 kg,” het Corrie gesê. “Die koue en die wind het gepla en ek moes meer as een baadjie aantrek.”

“Cornelia wou al begin moed opgee, maar ons het besluit om nog ’n keer te probeer.”

Die hoenderworsie en babermoetie wat hy voor aan haar hoek gehaak het, het egter ná twee uur se wag ’n grote nadergelok.

“Die vis het haar stok skoon van sy staander afgeruk. Sy het my nader geroep en gesê ek moet kom help, want haar lyn hak vas. Ek het die stok net so ’n rukkie vasgehou toe besef ek dis nie die geval nie. Hier is iets groots aan die lyn.”

Haar visstok het egter lyn opgehad wat net 4,6 kg kon dra en sy moes baie versigtig te werk gaan.

Volgens Corrie was die baber onwillig om droë grond toe te kom. “Hy het kort-kort met die lyn weggeswem, dan haak hy vas, dan swem hy weer. Dit was ’n groot gespook.”

Die vis is weer vrygelaat nadat dit geweeg is.

Dié twee hengelaars oefen gereeld in plaasdamme om die dorp. “Die Donkerpoortdam is leeg en die meeste van die plaasdamme het ook nie veel water oor nie,” het Corrie gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button