LettersOpinion

’n (Versekering)saak met twee kante

’n Paar tydskrifte, asook minstens een Sondagkoerant, het die storie in so ’n mate opgeblaas dat die jong, aantreklike weduwee soos ’n onskuldige slagoffer gelyk het.

Willie Pienaar, Mookgophong, skryf:

Die onlangse mediadekking oor die versekeringseis wat eers nie uitbetaal is nie, maar toe wel later uitbetaal is, het my herinner aan die ewe opspraakwekkende saak jare gelde van ’n eens welgestelde baron wie se geldsake benard begin raak het en hy het besef dat sy vrou binnekort in armoede sou moes voortleef indien hy nie gou ’n plan maak nie.

Hy het besluit om groot lewenspolisse uit te neem en iemand te betaal om hom om die lewe te bring ter wille van sy vrou.

Daar was ’n klousule wat gelui het dat die versekeringsdekking sou verval indien die versekerde binne twee jaar selfmoord pleeg. Die baron kon nie bekostig om vir twee jaar die premies te betaal nie en het ’n man ge-huur om hom te skiet. Die versekeraars het aanvanklik geen rede gehad om te vermoed dat daar ’n slang in die gras is nie en die eis sou uitbetaal word.

Die moordenaar het egter in die hof verklaar dat hy betaal is om die baron om die lewe te bring. Dit het die saak verander en die versekeraars het geweier om die eis uit te betaal.

Die versekeraars was heeltemal korrek: Die baron se bankstate (en die getuienis in die hof) het bewys dat hy finansieel op ’n groot glybaan was. Daar was beslis nie genoeg geld om twee jaar se premies te dek nie.

Die rol van die media in daardie saak was nogal interessant. ’n Paar tydskrifte, asook minstens een Sondagkoerant, het die storie in so ’n mate opgeblaas dat die jong, aantreklike weduwee soos ’n onskuldige slagoffer gelyk het. Jan Publiek het hul misnoeë te kenne gegee en die verkope van nuwe polisse het drasties afgeneem.

Dit het daardie versekeraar jare geneem om weer die publiek se vertroue terug te wen.

Bloot ’n stertjie tot hierdie storie: Daar was gerugte dat die baron by onwettige diamanthandel betrokke was en só sy verkwiste fortuin bymekaar gemaak het.

Related Articles

Back to top button