CrimeNews

Zimbabwiese burger agter tralies oor verskeie rooftogte op N1-snelweg

’n Man wat vermoedelik betrokke was by verskeie rooftogte op die N1-snelweg is agter tralies.

Die Pos het die afgelope jaar verskeie kere berig oor rooftogte op dié roete. Die meeste van die voorvalle was naby die Mantsole-weegbrug, die Lehau-oorbrug en Codrington-afrit wanneer die slagoffers langs die pad stilgehou het om ’n draai te loop of meganiese probleme met hul voertuie ondervind het. Ander het beweer hul motorbande het onklaar geraak weens skerp voorwerpe wat op die ryvlak gelê het.

’n Vrou is ook in Mei tydens een van dié voorvalle verkrag terwyl sy haar kind in haar arms vasgehou het, het Die Pos vroeër berig.

Kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het intussen aan Die Pos gesê ’n verdagte word met van dié sake verbind.

Brighton Gama (31), ’n Zimbabwiese burger, het in September verlede jaar uit die selle by die Bela-Bela-polisiestasie ontsnap. Hy was verhoorafwagtend in verband met rooftoge op die N1-snelweg.

Op daardie stadium het hy die naam Pilane Sithole gebruik, het Schutte gesê. Gama is volgens Schutte kort ná sy ontsnapping in die nek gewond nadat hy ’n voertuig in Mokopane probeer kaap het.
Hy het die voorval oorleef en is tot agt jaar tronkstraf op dié aanklag gevonnis.

Intussen het speurwerk egter getoon dat Gama se vingerafdrukke ook met vier van die vyf N1-rooftogte verbind kan word. Dié voorvalle het almal op Vrydag 8 Junie vanjaar tussen die Mackenzie-oorburg en die Mantsole-weegbrug plaasgevind.

Hoewel Gama steeds besig is om sy vorige vonnis uit te dien, word hy nou bykomend aangekla van dié rooftogte, asook vir ont-snapping uit aanhouding.

Hy moet weer op Woensdag 12 Desember in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Hy word steeds aangehou.

Related Articles

Back to top button