CrimeNews

Bekende pa en seun saam in hof oor trokbande

’n Ondersoekbeampte, het gesê die ondersoekspan was op soek na gesteelde trokbande, maar hulle het in die proses ook op ses vermoedelik gesteelde beeste op die plaas afgekom.

’n Bekende pa en seun — albei jarelange inwoners van Bela-Bela — is in hegtenis geneem in verband met ’n vlaag trokbanddiefstalle in dié rustige plattelandse dorp.

Hardus van der Westhuizen (58) en sy seun, Danie (36), is veral bekend as vervoerkontrakteurs in die Waterberg-omgewing.

Volgens die polisie is dié pa en seun en nog twee mans op Donderdag 8 November op ’n plaas in die Roodekuil-omgewing aangekeer.

Konst. Pieter Scheepers, ondersoekbeampte, het gesê die ondersoekspan was op soek na gesteelde trokbande, maar hulle het in die proses ook op ses vermoedelik gesteelde beeste op die plaas afgekom. Die beeste behoort glo aan ’n familielid van sers. Frans Sekgobela van die Bela-Bela-polisie.

Die ander twee verdagtes, Jeffrey Letlhaka (28) en Jan Makwela (34), wat op die plaas gewerk het, is saam met Hardus van veediefstal aangekla en in hegtenis geneem.

Die vier se eerste hofverskyning was op Maandag 12 November in die Bela-Bela-landdroshof, waarna die saak uitgestel is.

Luidens die klagstaat word pa en seun op twee aanklagte van diefstal van trokbande aangekla.

Die diefstalle het glo in Augustus en in Oktober vanjaar plaasgevind.

Volgens Scheepers kan die mans moontlik met nog sake verbind word.

Danie is afsonderlik aangekla van die diefstal van voertuigonderdele.

Hy is nie van veediefstal aangekla nie.

Die hofverrigtinge het op Maandag 19 November hervat, waarna die mans om borgtog aansoek gedoen het.

 

Danie van der Westhuizen (36) het sy gesig met ’n plastieksak bedek tydens sy hofverskyning. Hy word verbind met trokbanddiefstalle, asook met ’n by-komende saak van vermoedelik gesteelde voertuigonderdele. Foto: Herman Steyn

 

Danie het op pad na die hof probeer om die media te flous deur sy gesig met ’n inkopiesak te bedek.

Hy het nie die sak oor sy kop gehad terwyl hy in die beskuldigdebank gestaan het nie.

Die Van der Westhuizens se regsverteenwoordiger het in die hof gesê dat Hardus “nie presies weet” wat sy vorige veroordelings is nie, hoewel hy steeds om borgtog aansoek wil doen.

Dié stelling het landdros Gerrit Olivier ontstel.

Olivier het gesê dat die verdediging hul plig versuim deur nie die nodige inligting aan die hof te voorsien nie.

Borgtog van R1 000 elk is egter aan pa en seun toegestaan.

Die sake is na Vrydag 18 Januarie aanstaande jaar uitgestel vir verdere ondersoek.

Hardus, Letlhaka en Makwela het afsonderlik op Dinsdag 20 November op die veediefstalklagtes verskyn.

Die hof het gehoor dat Hardus ’n staatsgetuie in dié saak geword het en hy is op waarskuwing vrygelaat.

Die hof het borgtog van R2 000 elk aan Letlhaka en Makwela toegestaan en hulle is vrygelaat.

Die veediefstalsaak kom weer op Woensdag 12 Desember voor.

Die polisie wil spesiale melding maak van die lede wat deel was van die ondersoekspan: Rudi Janse Vuuren en Chopper Mothokwa van die Makanyane Anti Poaching-eenheid, AO Klaas Phutuka, konst. Pieter Scheepers en sers. Frans Sekgobela.

Related Articles

Back to top button